web analytics

Preek 19 Augustus 2018 (oggend)

19
Aug

Ds. Karin Steyn is in gesprek met mnr. Coetsee Bester, wat ‘n lid was van die Parlement vanaf 1994 tot 1999. Tans is hy die uitvoerende direkteur van die Afrika Instituut van Leierskap en hy is ook direkteur by die Sentrum vir Inligtingsetiek aan die Universiteit van Pretoria.

 

19 Augustus 2018

Oggenddiens

Filippense 3:12-15

Was dinge maar soos in die verlede

Ek hoor dit so baie wanneer mense kuier: “As dit maar net weer kan wees soos in die verlede”. Sommige van ons leef eintlik in ‘n wêreld van as dit maar net . . .

Hierdie gedagtes jaag ons. Die effek wat dit op ons lewens het, lê baie diep. Ons leef vandag eintlik in ‘n tronk oor dinge wat in die verlede gebeur het, dinge wat ons lam maak vir ‘n toekoms.

In die Nuwe Testament praat Jesus van hel en sy beskrywing is ‘n plek waar daar gehuil of op tande gekners word. As ek fyn luister na die woorde skep dit vir my ‘n prentjie van hierdie verlange na die verlede.

Kom ons lees saam uit Filippense 3:12-15 met hierdie agtergrond in gedagte.

Wanneer ons die derde hoofstuk lees, vind ons dat Paulus by die spyt of terugkyk verby leef. Hy het dit prysgegee. Daar is geen “as ek maar net . . . ” nie. Hy weet waaraan om vas te hou en wat om te laat gaan. Dit laat my wonder hoe groot die invloed van ons verlede vandag steeds op ons is?!

Edmundt Lancer was ‘n kunstenaar en besig om ‘n pragtige skildery te skilder toe vriende wyn daarop mors. “Edmundt, ons gaan jou nooit kan vergoed hiervoor nie. Jy gaan nooit weer presies hierdie kan verf nie!” Edmundt het die skildery met die wynvlek geneem en iets anders daaroor geskilder.

Soos Edmundt moet ons nie toelaat dat dinge wat gebeur het, ons toekoms belemmer nie. Ons moet God om vergifnis vra sodat ons oor sekere dele van ons verlede iets anders kan verf om steeds ‘n pragtige skildery van ons lewe te kan maak.