web analytics

Kersfees 25 Desember 2018

25
Des

Kersfees

25 Desember 2018

 

Die geskenke wat ‘n mens kry sê baie van dit wat op die oomblik in jou lewe aangaan. Ek kyk so na my kinders se speelgoedhopies: honderde goedjies wat hulle ‘n vlietende oomblik plesier gee. En ek moet maar tevrede wees met die Ferreiro Rosher en stortseep. Gewoonlik gee my skoonma vir my onderbroeke maar dit het nie eers hierdie keer gebeur nie. Maar die geskenke wat jy kry, sê iets van die lewensfase waarin ‘n mens is.

 

Hierby moet ek voeg – waarvoor vra ons op hierdie stadium? Want eintlik moet ek eerlik wees. Ek vra op hierdie stadium van my lewe nie meer regtig vir groot geskenke nie. Waarskynlik oor dit wat ek wil hê, nie meer lekker in ‘n boks pas nie. Maar ook omdat ‘n mens in ‘n fase van jou lewe kom waar die dinge waarvoor jy vra anders lyk. Ek vra nie meer vir ‘n ipad nie. Ek vra vir ‘n huis wat aan die kant is. Ek vra nie meer vir ‘n playstation nie. Ek vra eerder vir ‘n gesinsvakansie. Ek vra vir sekuriteit. Ek vra vir gesondheid.

 

Dit waarvoor jy vra, sê baie van waar jy jou op die oomblik bevind. Want as jy vra vir rus en vrede, sê dit eintlik dat jy dit nie het nie. As jy vra vir aanvaarding, sê dit eintlik dat jy voel jy moet jouself die heeltyd bewys. As jy vra vir sekuriteit, sê dit dat jy op die oomblik onveilig voel. As jy vra vir antwoorde op moeilike vrae, soos waarom slegte dinge met goeie mense gebeur, sê dit waarskynlik dat jy al onregverdige swaarkry in jou lewe gehad het. Dit waarvoor jy vra, sê baie van ‘n mens se lewe.

Kersfees is ‘n geleentheid om onsself te ondersoek en regtig te vra, wat is dit wat ons soek. Want as jy dit kan antwoord, al kan weet waarvoor jy vra, gaan jy jouself beter verstaan.

 

Daarom spreek hierdie verhaal my aan.

 

Wat ons by hierdie verhaal kry, is Salomo wat vir ons ‘n voorskou gee van waaroor Kersfees regtig gaan. Want hierdie vertel ons meer oor die geskenk waarop Salomo gehoop het.

 

Dit waarvoor konings gevra het, was eintlik welbekend. ‘n Koning het absolute mag gehad, en dit was belangrik dat mense dit sien want dit is hoe daardie mag behou word. Daarom sou konings op dinge soos rykdom staatmaak om gesag af te dwing. Of hulle sou gode vra om vyande van hulle dood te maak.

 

Maar wat gebeur in hierdie verhaal?

 

God stel aan Salomo die vraag. Wat is dit wat ek vir jou moet gee? Hy vra eintlik dus dat Salomo homself moet ondersoek. Salomo moet agterkom wat dit is waarvoor hy vra.

 

Salomo se antwoord is vir my op talle vlakke baie interessant.

  • Hy verwys 3 keer na homself as ‘n slaaf. Ons vertaal dit met dienaar. Die ingesteldheid wat hy dus het, wanneer dit kom by geskenke, is in die eerste plek nie egosentries nie. Dit is om te dien.

Ek dink dit is dalk ook waar die ware vreugde van geskenke lê. Dit lê daarin dat jy iemand anders gelukkig maak. Êrens het dit by ons verlore geraak. ‘n Verbruikerskultuur is besig om ons in te sluk. Maar wat ons werklik nodig het, is om die vreugde van diens weer te beleef.

Ek vertel altyd hierdie storie vir mense wat by my huwelikskategese kry.

 

Die eerste vakansie wat ek en my vrou gehou het nadat ons seuntjie gebore is, was interessant. Vir die eerste keer was dit nodig om ‘n waentjie saam te vat. Nadat ek die 2 dae bestuur het en lekker moeg was, het die las op my geval om die waentjie ook af te laai. Dit het 7 keer se heen en weer gekos om die inhoud in die waentjie na die woonstel op die eerste verdieping te skuif. Ek was moeg en gatvol. Want natuurlik het my vroutjie net gekyk hoe ek dit doen want iemand moet na ons seuntjie kyk.

 

Nadat ek moeg op die bank neerval, kom staan my vrou voor my en vra: So… wat gaan ons eet. En met dié het ek korrek tussen die lyne gelees dat ek nou moet opstaan en vir kos sorg.

 

Ek was nie baie entoesiasties nie.

 

Ek het boos by die Spar ingestap met vieslike gedagtes in my kop. Maar op ‘n stadium het ek kalmeer en onthou ek is getroud omdat ek my vrou wil gelukkig maak. Anders gestel. Ek is gelukkig as sy gelukkig is. En toe ek daarna die Spar se gangetjies deurstap het my hele ingelsteldheid en gemoedstoestand verander. Want ek het vreugde daarin gevind om haar te dien. Ek het kos gaan soek wat vir haar lekker is. Ek het gedink hoe ek haar aand beter kon maak. En in die proses het ek gelukkig geword. Teen aandete was my bui heeltemal weg en het ons ‘n heeeeeerlike aandjie gehad. ‘n Hoogtepunt van ons vakansie.

 

Hierdie lang storie het my geleer. Daar is meer vreugde daarin om te dien as om te ontvang.

 

Vind jou vreugde daarin om te dien. Salomo het dit ook so verstaan. Daarom praat hy, die groot koning van Israel, aanhoudend van homself as ‘n slaaf, ‘n dienaar. Wanneer hy vra, doen hy dit vanuit die uitkyk van ‘n dienaar.

 

  • Vers 9 – Gee vir my ‘n hart wat luister.

 

Ek is mal oor hierdie sin. Dit kan dalk bietjie verwarrend wees. Hoe kan gehoorsaamheid van God kom? Dit is tog ons wat besluit of ons gehoorsaam is of nie. Maar die Hebreeus help ons. Hart het nie te make met emosies nie, dit het te make met wil. Dit maak dat hy kan luister.

 

Die perfekte kersgeskenk kan jy net gee as jy luister.

Dit werk so in die wêreld ook. Ons praat baie graag. Ons het graag opinies. Ons lewer graag kritiek. Maar luister ons. Om ‘n perfekte geskenk vir die wêreld te gee moet jy weet wat die behoefte is. Jy moet ‘n wilsbesluit maak om te luister.

 

In Kerstyd is dit juis dit wat ons dikwels nodig het. Ons het nodig om te luister. Ons moet luister met ‘n oop hart. Ons moet sien waar die seer is en daarop reageer.

 

Kersfees is eintlik daar om weer ons oë oop te maak. Dis daar om ons te laat hoor/ te sien, wat in die wêreld aangaan. Eers wanneer ons oë werklik oop is, gaan ons weet wat die ‘regte’ dinge is om voor te vra. Soveel mense vra vir dinge wat hulle eintlik nie gelukkig gaan maak nie. Soveel mense vra vir korttermynoplossings. In plaas daarvan om oop hartsoë te hê wat jou leer om verby sekere struikelblokke te kyk. Verby ons eie bitterheid te kyk. Verby ons eie magteloosheid te kyk.

 

Die vraag wat egter aan my geknaag het, is die volgende: Wat as ons nie kry waarvoor ons vra nie. Wat ons ons nie dit regkry om verby ons huweliksprobleme, bankrotskap, kinderloosheid, rousmart, werksdruk te kyk nie. Want dit is deel van die probleem. Veral ook op Kersfees raak mens bewus daarvan dat jy nie altyd kry waarvoor jy soek nie. Jy is, om die waarheid te sê, selfs meer intens daarvan bewus.

 

En daarom het hierdie versie die meeste by my vasgesteek.

 

“Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou” (Vers 13)

 

Dit is so dat ons nie altyd kry waarvoor ons vra nie. Maar Kersfees herinner ons daaraan dat God juis partykeer vir ons gee waarvoor ons nie vra nie. Naamlik sy Seun, Jesus Christus. Dit is die storie van Jesus. Kersfees herinner ons daaraan dat Jesus gekom het na ‘n wêreld wat Hom nie wou gehad het nie, maar wat Hom nodig gehad het. Jesus kom ook aarde toe waar mense Hom verneder. Jesus is in sy lewe volledig bewus daarvan oor hoe dit voel om nie welkom te voel nie.

 

Maar Jesus kom aarde toe, al het ons nie vir Hom gevra nie, want sonder Hom kan ons nie leef nie. Deur die manier waarop Hy lief het, leer ons hoe God lief het. Deur Jesus se genade en vergifnis, leer ons God se genade en vergifnis ken. En sonder dit, is ons eintlik sonder enige hoop.

 

Dit is juis omdat God vir ons gee waarvoor ons nie vra nie, dat ons hoop het in hierdie lewe.

 

Ek kan daarom nie antwoord waarom ons nie altyd kry waarvoor ons vra nie. Ek verstaan nie hoekom moet goeie mense uitgebuit word nie. Ek verstaan nie hoekom liefdevolle paartjies nie kinders kan kry nie. Ek verstaan nie hoekom genesing van ‘n sieke nie altyd kom nie. En dit is sleg.

 

Maar ek weet ook terselfdertyd dat God wel gee wat ek nodig het, al vra ek nie altyd daarvoor nie. Want dit is Jesus.

 

Dit is die boodskap van Kersfees. Dit is wat ons vir mekaar moet sê. Ons het ‘n geskenk gekry. Die geskenk wat ons regtig nodig het. Jesus Christus is gebore.

 

Amen