web analytics

Oggenddiens 2 Desember 2018

02
Des

 

2 Desember 2018
Advent
Ds. Wouter van Wyk
Lukas 1: 26-38

Die aankondiging van Jesus se geboorte herinner ons dat Advent en Kersfees nie alleen ‘n tyd van blydskap is nie, maar ook van ontsteltenis. Blydskap: ‘n Engel verskyn en sê: Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou. Ontsteltenis: Maria was bang en verbysterd. Blydskap: Moenie bang wees nie, want God bewys genade aan jou. Ontsteltenis: Jy sal swanger word… Sy kan nie swanger wees nie! Sy is nog ‘n maagd!

Blydskap: Saam met die ontstellende nuus dat sy swanger is, hoor sy woorde wat g’n mens met die aanhoor daarvan sou kon kleinkry nie. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here sal Hom die troon van Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Maria sal die een wees deur wie God se Seun in die wêreld gebore word. Die eeue-oue belofte gaan in vervulling. God se belofte word waar. Dit is op die punt om te gebeur. En dit gaan deur haar gebeur – ‘n meisie, ‘n tiener . . . Hoe oorweldigend moes dit nie vir haar gewees het nie!

Jesus se koms bring blydskap, maar ook ontsteltenis. Hierdeur het God die poorte van die hemel vir ons oop gemaak. Ons weet die koninkryk van God het deur Jesus Christus tot ons gekom.
Tydens Advent verwag ons die koms van Jesus. Hierdie wag kan nie ‘n passiewe wag wees nie. Ons moet saam met Maria die ongemaklikheid in ons hê sodat ons die grootsheid daarvan kan verstaan.

Jy voel dalk in hierdie tyd bang en verbysterd dat jy nie in staat is om die verantwoordelikheid uit te leef nie. Dalk voel jy huiwerig in jou geloof en dink jy jy is nie goed genoeg toegerus nie. Luister dan na hierdie jong meisie se antwoord: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat U gesê het.
Mag jy hierdie Advent tot beskikking van die Here wees!