web analytics

Oggenddiens 27 Januarie 2019

27
Jan

27 Januarie 2019

Oggenddiens

Die hoek waaruit jy iets waarneem, maak ‘n enorme verskil. Ek onthou daar was hierdie streng, rowwe voorsitter gewees. Hy het eendag letterlik vir Simoné in trane gehad en daarom was ek nie sy grootste ondersteuner nie. Maar eendag, tydens ‘n toer, het ek hom gesien waar hy saam met ‘n paar kinders op die gras gespeel het.

Onmiddellik het ek hom in ‘n ander lig gesien. Ek dink dit is so met ander dinge in ons lewe ook. Dikwels, wanneer ander mense dieselfde seer as jy ken, sien jy hulle in ‘n ander lig.

Hier kom Nikodemus, in die nag, na Jesus toe. In die nag, met ander woorde, in die donker. En in die donker prys hy vir Jesus. Voordat ek verder gaan, moet jy eers verstaan dat Nikodemus ‘n hele groep mense verteenwoordig; ‘n groep mense wat baie daarvan gehou het om Jesus se wonderwerke te sien. Dit was hoe hulle wou glo. Vir Jesus was dit nie die soort geloof wat Hy wou tuisbring nie, want al wat geloof dan is, is ‘n bewondering van iets wat gebeur. Dis soos om in die gehoor (of kerk) te sit en na ‘n fantastiese vertoning te kyk. Die mense klap hande en hulle aand is gemaak. Maar hulle sal altyd net toeskouers wees, want die hoek waarvandaan hulle kyk, sal altyd dieselfde wees.

Daarom, wanneer Nikodemus sê hy weet Jesus kom van God agv die wondertekens, kan ek nogal dink dat dit Jesus moedeloos gemaak het. Dat dit Hom selfs kon irriteer (alhoewel gelowiges nie altyd gemaklik is daarmee om Jesus as geïrriteerd te sien nie). Daarom antwoord Jesus hierdie goedbedoelde kompliment eintlik met ‘n raas.

Vers 3:

Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Die woord wat Jesus hier gebruik, is die Griekse woord anothen. Wat Jesus letterlik hier sê, is dat Nikodemus ‘van bo’ gebore moet word. Ons vertaal dit partykeer met wedergeboorte want die woord het in Grieks twee betekenisse.

Wat sê Jesus nou eintlik – hy moet van bo gebore word?

Eerste belangrike ding. Wat is bo? God is bo, daarom is dit belangrik om te verstaan. Hy praat hier van iets geesteliks. Iets simbolies.

Die geboorteding het eintlik ‘n enorme dimensie aan wat ons vandag nie altyd so goed verstaan nie.

Jou geboortereg was in daardie tyd iets enorm. Dit was die een ding in die wêreld wat jy nie kon verander nie. Dit het eenvoudig bepaal wie jy is, hoe jy dink en hoe mense na jou kyk. Daarom wou baie mense nie Jesus se boodskap aanvaar nie, want Hy was ‘n man uit Nasaret, ʼn timmerman se seun.

Sy geboortereg was eenvoudig laag en dit is nie iets wat iemand kan verander nie. Daarom ook Nikodemus se reaksie.

Jy kyk na ‘n wêreld wat jy bewonder, maar waarin jy nie regtig glo iets kan drasties verander nie. Soos iemand se geboortereg. God sê nee, jy kan dit verander. Meer nog, jy moet dit verander. Sien jou geboortereg as God se kind. Daardeur word alles bepaal oor hoe jy na die wêreld kyk.

Wat is dit wat Jesus eintlik sê? Hy sê vir Nikodemus dat die manier waarop hy na die wêreld kyk, verkeerd is. Hy kom vanuit die donker. Hy fokus op wonderwerke. Hy kyk as toeskouer van onder af. Maar hy moet van bo af na die wêreld kyk, vanuit God se perspektief. Meer nog. Eers wanneer hy sy geboortereg as ‘n kind van God sien, wanneer hy sy perspektief verander om na die wereld te kyk soos God na die wereld kyk, eers dan sal hy snap waaroor Jesus se woorde en wonderwerke werklik gaan.

Dis nou ‘n ellelange storie om nou by die vraag uit te kom. Vanuit watse lig kyk ons na die wêreld?

Ons perspektief is moeg en afgerem. Ek het einde laasjaar in baie facebook posts gesien dat 2018 maar crap was. 2019 moet tog net beter wees. Dalk was dit crap. Maar dalk kyk jy ook die lig mis. Dalk kyk jy na 2018 omdat jy wonderwerke, tekens, huge stuff wou sien, en dit nie gesien het nie. En hierdie teleurstelling is die rede waarom jy na die jaar kyk in ‘n lig van negatiwiteit.

Dalk is jou perspektief prestasiegedrewe. Dit gaan ook oor die wonderwerke. Die deurnag werk ten spyte van ‘n vrou en kinders by die huis. Die aanhoudende kompetisie dat niemand meer naby jou wil wees nie, want alles word vergelyk. Alles word gemeet.

Dalk is jou perspektief donker. Dalk loop jy ook in die donker rond soos Nikodemus.

Die Here roep jou om te glo in ‘n wedergeboorte.

Wedergeboorte het nie soveel met ons te make soos wat dit met God te make het nie. Kyk na die wêreld vanuit God se perspektief, dan is jy wedergebore. En wat is dit wat God sien?

Johannes 3:16

Wanneer God na die aarde kyk, sien Hy mense wat die moeite werd is om voor op te offer. God sien geleentheid vir lig, juis in die donker.

Slot

Al wat jy nodig het om te doen, is dat jy iets onder die lig sal sit, dat jy sal toelaat dat iemand ‘n ander perspektief vir jou uitwys. Dalk het jy ook nodig om na die wêreld te kyk met liefde – ‘n liefde wat opoffer.