web analytics

Preek 12 Augustus 2018 (oggend)

12
Aug

12 Augustus 2018

Oggenddiens

Was ek maar in daardie gemeente

Handelinge 17:16-34

Wanneer dit by die verskillende kerke van ons tyd kom, is een van die mees gerespekteerde stemme nie dié van ‘n dominee, pastoor, evangelis of rabbi nie, maar eerder dié van Oprah Winfrey (soos bewys deur navorsing). Dit sê nogal baie van die geestelike reis van hedendaagse mense. Ek het onlangs die boek “Oprah’s Jesus” gelees en dit het my geweldig aangeraak. Hedendaagse geloof is al in bekende tydskrifte met die volgende opskrifte beskryf:

  • God with a million faces
  • Cafeteria religion
  • In a mix-and-match world, create your own religion.

Wanneer ek oor die geestelike deel van ons lewens gesels, roep ek ‘n verhaal uit Handelinge op – Handelinge 17:16-34

Paulus loop deur die Griekse Parthenon. Die apostel kuier in Athene as ‘n Romeinse burger maar hy is ook ‘n Jood. Rondom hom sien hy die pluralistiese kultuur van sy tyd. In die Parthenon is daar verskeie altare vir verskillende offers wat jy vir die onderskeie gode kan bring. Dit was jou eie keuse watter god jy wil aanbid. Paulus wil hierdie mense in Athene van ‘n bewussyn van iets groter na ‘n persoonlike verhouding met die ware God lei.

Om hierdie rede begin hy met die stad se akademiese elite gesels. In daardie tyd het hulle daarop klem gelê dat hulle nuut dink of soos die Engelse woordjie sê: “open minded” was. Hierdie “elite” was onseker oor watter mitologiese verhaal die ware storie van God vertel. So bring hulle alles saam by die Parthenon en bou selfs ‘n tempel vir die “onbekende God”.

Deur die mitologie probeer hulle ‘n prentjie skep van hoe God moet wees. Maar dis ‘n God wat hulle nog nooit ontmoet het nie.

Sosioloë wat navorsing oor die antieke wêreld gedoen het, sê die mense het die geestelike feeste bygewoon en offers gebring aan verskeie gode omdat dit in daardie kultuur en tyd die regte ding was om te doen ter wille van hul status. In die tyd kom Christene na vore wat sê: Ons ken die een ware God; die God wat heers oor alles op aarde, die God vir wie julle bang is dat Hy julle dalk uitgelos het.

In Athene skep Paulus nou ‘n krisis vir die elite deur te sê hulle kan die “onbekende God” ken. Soos Paulus deur Athene stap, word hy gekonfronteer met die realiteit van God, maar ook met die misterie van God. Die mense van Athene was ongemaklik hiermee. Hoe kan die mens hierdie God ken . . ?

Is ons nie vandag steeds ongemaklik hiermee nie? Vandag is dit eintlik ek en jy wat deur Athene stap. Ons sien al die verskillende opsies wat mense glo en wat kerke mense bied, maar in dié tyd is Paulus se boodskap aan daardie mense in Athene sterk gerig op ons. Vier ons die geestelike feeste soos Kersfees, bring ons offers of gaan ons kerk toe net omdat dit reg voel of selfs omdat dit ‘n spesiale geleentheid is? Of verstaan ons dit as ‘n persoonlike oortuiging om die “ware God” te ken?

In ‘n wêreld waar ons ‘n spiritualiteit en kerk kan kies wat by ons persoonlike behoeftes pas, raak die verhaal van Paulus my sterk aan die hart.