web analytics

Preek: 13 Mei 2018

13
Mei

enRoute diens

 

Pinkster

Sondag 13 Mei 2018

Aanvangswoord
“Soos ’n blaar na die grond val; soos die Vaalrivier na die see loop; soos ’n Jakaranda haar takke na die winterhemel oopsprei; soos skape agter hulle herder aanloop – so rig ons ons harte nou op die Here.”

Seëngroet
Liewe gemeente van Tygerpoort, genade en vrede van God van wie die Gees uitgaan, genade en vrede van Jesus Christus wat die Gees na ons stuur, genade en vrede van die Heilige Gees, die Trooster wat elke oomblik by ons is.

Geloofsbelydenis
Ek glo in God, die Almagtige Ouer, die God van Rebekka en Jakob, en van elke Leviet en vreemdeling, van elke pelgrim en swerwer op aarde. En in Jesus Christus sy eniggebore Seun, ons Here, wie se liggaam soos ‘n saadkorrel in die grond geplant en opgewek is as eersteling van dié wat gesterf het.

Dit is die Here saam met wie ek in my doop begrawe is om saam met Hom te wees in sy opstanding. Ek glo in die Heilige Gees wat as eerste vrug vir ons gegee is, die voorsmaak van wat vir ons in die toekoms wag.

God is my Reisgenoot wat my in die voorspoedtye van my lewe herinner…  dat ek ’n kind van swerwende Arameërs is; en op aarde self ook ‘n vreemdeling en bywoner,’n tydelike besoeker op pad na die eendag waarheen my hoop reik.

God is my reisgenoot wat my in die moeilike tye van my lewe herinner… dat ek al so dikwels deur die driwwe van die lewe gedra is; en ten spyte van wat ek soms beleef, omvou die Gees van Christus my elke oomblik soos ‘n dooprok.

Amen

 

Gebed oor die Heilige Gees

Ek glo in ‘n geheimsinnige Iemand wat naby my is, wat binne-in my is, wat my armsalige gespartel en gespook sien en wat my dan stilletjies vashou en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.

Ek het dit vele male in my lewe ervaar as ek wegsink en meegevoer word deur die strome van die lewe wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook in beslissende momente in my lewe ondervind dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.

Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het. Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde as’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.

En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees, Iemand wat my vashou, Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou. Ek glo in die Heilige Gees.

(Herman Bavinck)

Litanie vir gebruik in Pinkstertyd

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep U kerk regoor die wêreld…
G: met waagmoed vir geregtigheid.

V: Kom herskep U kerk in Suid-Afrika…
G: met deernis en medelye vir die nood om ons.

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep individue in die wêreld…
G: dat hulle onrustig sal bly totdat hulle rus vind in U.

V: Kom herskep mense wat onseker is oor hulle identiteit…
G: tot ‘n lewe van selfaanvaarding.

V: Kom herskep mense wat ander veroordeel…
G: tot ‘n lewe van selfondersoek.

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Behalwe vir die kerk en vir individue, vra ons uitkoms vir ons wêreld… Vir die oorloë…
G: in Afghanistan, Sirië, en elders.

V: Vir die Vigspandemie…
G: in Suid-Afrika, die res van Afrika en oral waar mense ly.

V: Vir hongersnood en armoede…
G: in Indië, Malawi, Amerika en ook in Pretoria.

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep ook vir my…
G: haal my klip hart uit, en gee vir my een van vleis.

V: Saam met die kerk wêreldwyd en die wolk van getuies wat oor die eeue heen strek bid ons…
G: Kom, Skepper Gees!

V: Amen!


Toewyding

V: Wanneer ons vanaf hierdie erediens uitmekaar gaan, betree ons die erediens van die lewe… Gaan die wêreld tegemoet: dans, lag, sing en skep.
G: Ons gaan met die versekering van God se seën.

V: Gaan die wêreld tegemoet: neem risiko’s, verken, ontdek en wees lief.
G: Ons gaan met die versekering van God se genade.

V: Gaan die wêreld tegemoet: glo, hoop, stry en onthou.
G: Ons gaan met die versekering van God se liefde.

V: Gaan nou, en onthou Jesus het sy Gees vir ons gegee! 

Seën
Mag die pad verrys om jou te ontmoet, die wind altyd teen jou rug en die son warm op jou gesig;
en tot ons weer ontmoet: mag die reën sag val op jou land
en mag God jou behoed in die palm van Sy hand.

|Preke