web analytics

Preek 16 September 2018 (oggend)

16
Sep

16 September 2018

Johannes 20:19 – 31

Ware geloof

Die bloed drup stadig uit ‘n klein snytjie in die Jesuïtiese priester, Vader Christovao Ferreira se nek. Hy hang onderstebo met sy kop in ‘n gat in die grond. Sy hele liggaam is in ‘n sak vasgebind, sy voete met ‘n tou vasgemaak aan ‘n menshoogte paal. Sy hande is oor sy bors vasgebind. ‘n Sirkelvormige stuk plank is om sy nek vasgemaak. Hy kan niks om hom sien nie. Dit is donker en al wat hy hoor, is die gedrup-drup van die bloed wat oor sy gesig loop en deur sy hare op die grond val. Die pyn is ondraaglik. Sy gedagtes begin deurmekaar en verward raak. Die een ding wat soos ‘n refrein deur hom spoel om uit hierdie wurggreep van die naderende dood te ontsnap, is om te doen wat die Japanese owerhede van hom vra. Trap op die fumi-e, ‘n afbeelding van Jesus aan die kruis, en jy is vry. Daardeur sal jy al die ander Japanese Christene van ‘n gewisse dood red. Ons sal hulle ook vrylaat. Die eerste uur hou Christovao Ferreira nog uit, vas en volhardend in die geloof.

Sedert sy aankoms in Japan in 1601 staan hy sterk soos hy dit nou al vir meer as twintig jaar in die uitdagende vervolgings en martelings doen. Na ses ure van onmenslike pyn en ontbering skree hy dit uit: “Ek sal trap! Ek sal trap!”. Die verlossing van sy pyn het teen ‘n geweldige prys gekom, naamlik sy geloof. Het hy maar die ondersteuning van ander dissipels gehad wat hom daar in die begin in sy twyfel kon sterk – net soos vir Thomas, sou hy moontlik ook soos Thomas kon bely: “My Here en my God!”. Maar Christovao was alleen. Sy geloof het gewankel. Hy het sy geloof afgesweer. Die Japanese owerhede het gewen.

 

Ek wonder hou sou ek in so ‘n uitmergelende situasie vaar. Die rolprent Silence beeld dit uit. Sou ek die pyn van die “put” kon weerstaan, daardie gat in die grond waarin Christene kop onderstebo opgehang is? Beter as Christovao Ferreira? Sou jy?