web analytics

Preek 26 Augustus 2018 (oggend)

26
Aug

26 Augustus 2018

Oggenddiens

Markus 6:35-44

Gemeentefees

Jesus was baie lief vir sy kos. Jy sal sukkel om ‘n bladsy in die Bybel te lees waar daar nie op een of ander manier na kos verwys word nie. ‘n Skrywer het dit so gestel: “If you are reading the Bible and you’re not getting hungry, you’re missing the meat of the gospel.”

Jesus eet dikwels. Hy eet wanneer ander mense vas. Hy eet saam met Levi, die tollenaar en saam met baie ander tollenaars. Hy gaan selfs so ver om ‘n tollenaar in ‘n boom te roep net om vir Hom te gaan kos maak. Hy drink water saam met ‘n vrou by ‘n put. Hy vermeerder wyn by ‘n troue sodat die partytjie kan voortgaan . . . en dat hulle kan eet. Vir Jesus is kos so belangrik dat Hy nie een keer nie, maar twee keer ‘n wonderwerk doen deur brood te vermeerder.

Wanneer Jesus nie eet nie, dink Hy aan kos. As ons die Lukas-evangelie lees, sien ons vyftien van die drie en twintig stories (beter bekend as gelykenisse) wat Jesus vertel, gaan oor kos. Kyk byvoorbeeld na die gelykenisse oor goed wat verlore is: die skaap, die muntsuk, die seun. Wat gebeur  aan die einde? Daar word fees gevier. Wat gebeur by ‘n fees? Jy eet! Die pa van die verlore seun slag sommer die vetgemaakte kalf, die lekkerste kos, toe sy seun terug keer.

Ek glo ek het my punt gemaak. Jesus was mal oor kos!

Daar is verseker verskeie redes hiervoor. Een rede hiervoor kon wees omdat Jesus weet hoe belangrik dit is dat mense by mekaar moet uitkom. Dit is belangrik om mekaar in die oë te kyk. Dit is belangrik dat ons van tyd tot tyd skouers skuur.

Tydens die wonderwerk van die vermeerdering van die brood gebeur nog ‘n belangrike ding. Jesus breek die grense tussen klasse af. Slegs deur grense af te breek, gaan ons die gemeenskap van God kan beleef. Ons probleem is dat ons meestal haastig is. Ons privaatheid is belangrik. Ons verkies ‘n drive-thru bo ‘n restaurant. Ons verkies ‘n tv-ete bo ‘n ete aan tafel. In die proses loop ons mekaar mis, en loop ons God mis.

Laat ons soos Jesus grense afbreek en mekaar meer gereeld in die oë kyk. Mag ons meer saam eet!