web analytics

Preek 3 Junie 2018 Aand

08
Jun

 

Sondag 3 Junie

En Route diens

Mense en hul grense – ‘n Alternatiewe siening van uitreik

Lukas 14: 16b-23

VERWELKOMING

Op 27 Mei het NG Tygerpoort se jeug die voorreg gehad om deel te neem aan ‘n uitreik na die VGK kerk in Eersterus. Ek’s seker jy sal saamstem wanneer ek sê uitreik is belangrik. Die vraag is: Hoekom is uitreik belangrik? Wat lê aan die hart van uitreike? Dit is die tema vir hierdie gesprek.

INLEIDING

Die tydperk van die laat 1830’s was ‘n besonderse moeilike tyd in Amerika se geskiedenis. Daar was groot finansiële krisisse wat gelei het tot ‘n desperate resessie. Dié tyd staan bekend as “the Panic of 1837”. Een man met die naam P.T. Barnum het dit reggekry om in hierdie tyd ‘n baie suksesvolle besigheid te begin.

Hy het vir die bank gejok om ‘n lening te kry om ‘n museum te koop. Sy uitstalling was egter nie suksesvol nie. Hy’t besef hy kort ‘n “lewendige” aantrekking. Barnum kry toe die Randfigure-mense wat uitgestoot is uit die samelewing weens vreemde voorkomste en talente. Hulle voer toe saam vertonings op. Hier vorm hierdie groep mense ‘n hegte gemeenskap, ‘n huis en ‘n familie. Vir die eerste keer ervaar hulle menswaardigheid. Hierdie vertonings loop uit op die stigting van die Barnum & Bailey Circus in 1871-2017. Barnum se lewensverhaal word in die fliek The Greatest Showman, vertolk deur Hugh Jackman A.K.A “Wolverine”. Barnum was bekend daarvoor om geld na te jaag en het klaarblyklik nie regtig omgegee vir sy sirkus-kunstenaars nie. Daar is een deel in die fliek waar hy ‘n partyjie hou vir al sy ryk vriende en kontakte, sy sirkus-kunstenaars kom toe opgewonde daar aan maar hy klap letterlik die deur in hulle gesigte toe.

*Kyk gerus na die video deur die volgende skakel te volg en kyk hoe hulle daarop reageer: https://youtu.be/CjxugyZCfuw

Watter deel van die video-greep staan vir jou uit? Hier volg ‘n paar opmerkings:

  • Wanneer die vrou inisiatief neem, volg die res van die groep haar. Sy moes vooruit gaan om die ander die reg te gee om ook deel te neem.
  • Daar is duidelike grense te sien in die volgende:
    • Aan die begin is die rykes baie verbaas en geskok oor hierdie groep mense.
    • Buite is daar mense met fakkels wat hewige teenstand bied vir hierdie groep uitgeworpenes.
    • Aan die einde is daar ‘n gehoor wat hulle verwelkom en selfs met tye saamsing en deelneem aan die vertoning.

Sigbare grense in die samelewing

Ons ervaar grense op so baie plekke in ons samelewing. Die mees bekende is dalk die Amerikaanse president, Donald Trump, met sy muur op die Meksikaanse grens. Daar is ‘n paar kunswerke deur die kunstenaar Banksy wat dit waag om Trump se maniere uit te daag. Hier is ‘n voorbeeld van sy werk. Gaan kyk gerus ook na van sy ander werke.

Onsigbare grense

Dan is daar ook heelwat onsigbare “grense”. In Suid-Afrika was daar nog altyd grense tussen rasselyne. Dit beteken nie ons kan dit maar oorsien nie, maar om dit te erken, is ‘n begin.

Onsigbare grense word opgerig – soms weens ras, soms weens ouderdom of geslag of seksuele oriëntasie.

Daar is ook selfs meer subtiele grense soos in die werksplek, by die skool, enige plek waar iemand “vreemd” en alleen kan wees. Dinge wat grense bou, is goed soos oordeel, skinder en stereotipes. Daar’s selfs grense binne families en huisgesinne. Ek het self iets hiervan beleef. Toe ek ‘n tiener was, het ek gevoel of daar grense was tussen my en my ouers. Eers baie jare later kon ons daardie grense afbreek en het ons nou ‘n wonderlike oop verhouding. Dalk voel jy ook so.

By al hierdie plekke moet ons die Heilige Gees vertrou om ons te help onderskei waar daar grense is.

Hier is ‘n belangrike stukkie geloof wat hier inkruip. Die afbreek van grense het ten diepste te doen met hoe ons Jesus verstaan. Kom ons kyk dan nou na ‘n gelykenis wat Jesus vertel oor grense en kyk dan wat ons by Hom kan leer. Ons lees uit Lukas 14: 16b-23.

LUKAS

Terloops…wanneer ons na Lukas kyk, sien ons ‘n baie interessante verskynsel. Wanneer Lukas praat oor die koninkryk van God sê hy in hoofstuk 17:21 “Kyk (en wees bewus daarvan) dat die Koninkryk van God reeds by julle is, in julle midde en in julle harte.”

Ja, Jesus was en gaan weer kom, maar die koninkryk is reeds vandag hier. Dit is die boodskap van Lukas. Hier kyk ons spesifiek na Jesus se eie woorde aangaande grense en dit help ons om na te dink oor wat hierdie verskynsel vandag vir ons kan beteken.

Skriflesing

Lukas 14:16-23

“Daar was ’n man wat ’n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het. 17 Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’ 18 Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het ’n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ 19 ’n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u verskoon my asseblief.’ 20 Nog ’n ander een sê: ‘Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.’ 21 “Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’ 22 Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’ 23 Toe sê die man vir die slaaf: Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.

Historiese interpretasie

Hierdie gelykenis is deur die geskiedenis op vele maniere verstaan.

Die uitnodigings word deur die geskiedenis verstaan as metafoor van verlossing en redding. Die gaste in die storie, wat nee gesê het, word dan vergelyk met mense wat vir God se verlossing nee sê. Baie mense sê dat God as die gasheer verstaan moet word, dat God almal uitnooi na die feesmaal (hemel) maar dat slegs dié wat besluit om te kom, daaraan kan deelneem. Almal is dus uitgenooi om deel te neem aan die koninkryk van God, maar jy moet besluit of jy in of uit is. Dit is een manier om die teks te verstaan en dis ‘n aanvaarbare manier.

Maar is daar nie dalk ‘n dieper betekenis in Jesus se woorde nie? Jesus praat hier met regte mense met regte probleme. Jesus beloof nie slegs redding van die aarde nie, maar redding binne die aarde. Hierdie manier van lees, bied vir ons ‘n ander storie met ander waardes.

Alternatiewe storie – Agtergrond

Om die alternatiewe storie beter te verstaan, gaan ons kyk na die uitleg van ‘n antieke stad. Hier is ‘n voorbeeld van ‘n antieke stad, soos die van Jesus se tyd in die gelykenis wat ons gelees het:

 

Daar is 2 belangrike punte hier, 1. Sosiale grense en 2. Uitnodigings wat ons hier bespreek:

  • Sosiale grense

Daar was baie streng sosiale grense in die Ou Nabye Ooste. Ons sien ook ‘n beweging, ‘n uitkring van heiligheid. Die heiligste is in die middel en die onheiligste buite. Daar was binnemure met hekke wat die interaksie tussen die sosiale groepe beheer het. Hoofsaaklik was daar 3 afgesperde gebiede, of 3 kringe;

  • Die eerste kring was in die middel waar ons die paleis, tempel en huise van die rykes gekry het. Hierdie middestad was duidelik afgesper met ‘n binnemuur. Dit is waar die gasheer in die gelykenis bly. Kom ons noem hom maar Peet.
  • Die tweede kring was vir die gewone mense – die armes wat buite die rykes se mure gebly het maar tog binne die grensmuur van die stad. Lewensomstandighede hier was sleg, die strate was stowwerig, klein, oorbewoon. Baie het verstik aan die rommel en varke, voëls en honde sou oral aan die rommel vreet. Honde was bekend as die skoonmakers, eintlik ongewenste diere wat aan gemors vreet en natuurlik, onheilig. Peet sou hierdie gedeelte van die stad met alle mag probeer vermy.
  • Dan was daar ook ‘n derde groep van siekes: die melaatses, die kreupeles, prostitute, bedelaars, ensovoorts. Hulle het fisies buite die stad gebly en was gesien as onheilig. Hulle mag uiteraard nie naby die rykes binne die stad kom nie. Sosiale interaksie met mense binne die stad was heeltemal uit en as jy binne die stad was, sou jy moeite doen om hierdie mense te vermy.
  • Uitnodigings

Uitnodigings vir etes, soos in ons gelykenis, was dan ‘n groot toets van sosiale interaksie, selfs onder die ryk mense. Net omdat jy in die binnemure van die binnemure bly, beteken nie almal was gelyk nie. Wanneer Peet mense uitnooi was dit ‘n toets van sy eie sosiale status. As mense dink Peet het hoë status sou hulle sy uitnodiging aanvaar, maar hulle het nie. Dis baie duidelik dat hulle nie wou kom nie, want hulle het baie swak verskonings gehad. Hulle het basies gesê: “Skuus ek kan nie kom nie; ek moet my hare was.”

Dit was ‘n konstante stryd om eer te bekom en by hierdie geleentheid het hy sy eer verloor. Dit was baie sleg.

Alternatiewe storie – Betekenis vir die tyd

Nou kom die draaipunt in ons verhaal, Peet doen ‘n vreemde ding. In plaas daarvan om weer te probeer om die rykmense se guns te wen op ander maniere, breek hy al die sosiale reëls. Hy nooi dié wat in ‘n laer klas as hy is. Nie net nooi hy die laerklas net-net buite die heilige mure nie maar hy nooi almal selfs van buite die stad se mure, die siekes, die melaatses, die kreupeles, prostitute en die bedelaars. Nie net gooi hy die reëls van die stad, die reëls van eer, uit die venster nie. Peet gooi ook die reëls van die tempel, die reëls van reinheid, uit die venster deur hierdie “onrein” mense te nooi. Peet het figuurlik die mure wat die klasse skei, afgebreek en die wêreld onderstebo gedraai.

*Jesus gebruik dan vir Peet om ons iets te vertel van die koninkryk van God waar die belangrikste waardes van eer en reinheid skielik geen rol meer speel nie. In hierdie gelykenis het Peet besef dit gaan nie oor hom nie – hy is deel van iets baie groter as hyself.

Betekenis vir ons vandag

Ons sien hoe Peet beweeg van binne na buite. Dit is ‘n radikale storie, maar dis nie ‘n nuwe storie nie. Dis ‘n baie ou storie, dis die oudste storie. Ons sien hierdie beweging van binne na buite by die skepping. God hoef nie die aarde te geskep het nie. Uit liefde het God besluit om iets buite God self te skep, dit is ten diepste ‘n skuif van binne na buite. Ons sien dit dan weer by Jesus se kruisdood. Jesus het sy mag opgegee om mens te word, om ‘n slaaf te word en om te sterf aan die kruis.

Dit laat my dink aan ‘n speletjie wat ons as kinders gespeel het nl. Open the gates. Wie ken dit? Daar was een persoon in die middel met die hele groep eenkant.  Dan sou mens een vir een probeer om by die ou in die middel verby te kom. As jy dit regkry om verby die ou wat aan is, te kom, dan gaan die hekke oop, daarvandaan die naam: open the gates dan kry almal die reg en hardloop almal gelyk.

SLOT

Jesus het die mure afgebreek en hekke oopgemaak sodat ons almal in vrede en in gelyke verhouding kan leef, dit is die evangelie. Die skrywers van This is me het iets van Lukas verstaan.  Hulle verstaan hoe mense wat uitgestoot is, kan deel word van die groep en gelyk wees. Banksy het iets van Lukas verstaan en die afbreek van mure en grense uitgebeeld deur sy kuns.

Ewe skielik klink die term “verlossing” anders, nie waar nie? Wanneer ons dus praat van ‘n uitreik, doen ons dit omdat God dit eerste gedoen het, omdat Jesus dit gedoen het. Verlede week se uitreik na Eersterus was dus ‘n voortsetting van wat Jesus op aarde kom doen het. NG Tygerpoort en VGK Eersterus verskil dalk, maar dit beteken nie dat dit grense tussen ons hoef te stel nie. Ek dink elkeen wat by verlede week se uitereik was, kan getuig van hoe die grense tussen ons en hulle deur die koninkryk afgebreek is. Mag jy ook hierdie boodskap aangryp en grense afbreek sover jy gaan.

OORDENKING

Gebruik ‘n oomblik om na te dink oor grense wat jy beleef. Dalk beleef jy grense tussen jou en:

  • iemand by jou werk,
  • iemand by die skool,
  • iemand wat anders as jy glo,
  • iemand met ‘n ander seksuele oriëntasie as jy,
  • iemand van ‘n ander ras,
  • iemand in jou familie of gesin.

Gebruik ‘n oomblik van stilte en dra hierdie mense op aan die Here…

SEËNBEDE

Mag God, die Vader, vir jou die liefde in jou hart wees,

Mag God, die Seun, vir jou die voorbeeld wees,

Mag God, die Gees, vir jou lei om grense af te breek,

Mag God, Drie-enig, vir jou seën, sodat jy ‘n seën tot ander kan wees, van nou af tot in ewigheid,

Amen!