web analytics

Bybelkursus | Jona | Week 5 | Temas en boodskap

08
Jan
Topic Progress:

Roeping

Die boek van Jona begin met Jona wat in Jona 1:2 geroep word om diens aan God te doen. Jona verwerp egter hierdie roeping en kies eerder om weg van God af te vlug. Jona ontvang ’n tweede keer dieselfde roeping in Jona 3:2 waarna Hy gehoorsaam is en wel die opdrag uitvoer. Ons lees egter eers in Jona 4:2 die rede hoekom Jona nie hierdie roeping wou uitvoer nie. Hy het geweet God is genadig en Hy wou nie hierdie genade met die vyande van Israel deel nie. God antwoord hom egter dat Hy wat God is besorg wil wees oor ’n stad en mense en diere, al is hulle nie deel van Israel nie. Hierdie boodskap was radikaal vir die mense van Israel en waarskynlik sou baie min Israeliete van Jona se storie gehou het. Dit laat mens wonder oor mens se eie roeping, mense van wie jy dalk nie hou nie en wat God van jou verwag.

God se teenwoordigheid

God se teenwoordigheid soos ons geleer het in week 1 met die antieke wêreldbeeld was baie beperk en afgesonder tot Israel en veral Jerusalem en die tempel. Dit is deels as gevolg van hierdie persepsie dat Jona dink hy kan van God af wegvlug. Vinnig besef Hy dat dit egter nie so maklik gaan wees nie en dat God se teenwoordigheid baie verder strek as wat hy gedink het. Selfs in die doderyk is God daar (’n belydenis wat Dawid ook in Psalm 108 maak). Die boodskap wat hierdie vir Israel wou bring is dat God oral teenwoordig is en nie net in Israel of die tempel nie.  Hier is ’n oulike prentjie om die beginsel te kommunikeer.

 

Gebed

Jona rig ’n desperate gebed vanuit die doderyk aan God, maar nie met die idee dat God Hom gaan hoor nie. Lekker verras is Jona wanneer God wel sy gebed verhoor en hom uit die doderyk red. Soos in week 3 se video verduidelik was Jona se hele lewe hier in Choas gedompel, maar God red Hom daaruit. Hierdie het ’n kragtige boodskap vir enige persoon wat vandag nog voel sy lewe is choas en hy kan net desperaat tot God bid.

God se genade

Jona is ’n profeet wat God se genade ken, dit ervaar en tog teen hoofstuk 4 wil hy nie hierdie genade met sy vyande die Assiriërs deel nie. God se antwoord hierop is dat Hy graag oor hierdie mense besorg wil wees en vir hulle Sy genade gee. Hierdie oopvraag waarmee die verhaal eindig is eintlik ’n vraag wat die skrywer aan elke persoon wat die verhaal lees wil rig: Mag God nie besorg wees oor ander mense nie? Selfs dalk jou vyande? ’n Vraag wat bedoel was om deur die lesers van die antieke Israel wat waarksynlik op hierdie stadium gehoop het vir ’n magtige herstel en alleenreg van Israel. Die doel was om dit duidelik te maak dat God nie beperk kan word tot een nasie, volk of taal nie! God se genade is vir almal bedoel.

Antieke boodskap van Jona

Die antieke boodskap van Jona kan dus opgesom word met MOET NIE GOD BEPERK NIE! Sy genade, sy teenwoordigheid en sy mag is groter as wat enige iemand ooit kan begryp. Daarom moet jy besef jy geroep is om Sy naam aan almal te verkondig, dalk selfs ook jou vyande. Vir die wat op hierdie stadium in balingskap in Babilonië gesit het, het dit beteken om nie meer net te hoop dat hulle vernietig moet word nie, maar dat daar vir hulle van God vertel moet word. Vir die wat in Israel agtergebly het, het dit beteken hulle moet nie dink God is net by hulle nie.

Boodskap van Jona vandag

Baie mense haak by vraag of Jona in die vis was of nie vas en mis die hele punt van die verhaal van Jona. Die verhaal van Jona wil tot vandag toe God se genade verkondig, ons bewus maak van God se teenwoordig en veral bewus maak van ons eie roeping en verantwoordelikheid teenoor ander mense. Mag jy hierdie boodskap van hierdie wonderlike kortverhaal nooit vergeet nie!.