web analytics

Graad 2 | Kwartaal 1 | Les 5 | Die 10 gebooie – Deel 2

11
Mar
Topic Progress:

 

Kernboodskap

God wil hê ons moet mooi teenoor ander mense lewe.

 

Aanvangsaktiwiteit

Onthou julle die eerste 4 Gebooie wat ons verlede week geleer het? Kom ons probeer dit opsê deur na ons plakaat te kyk. Het julle al ooit koek geëet? Hoe maak mens ‘n koek? Mens het ‘n resep nodig om koek te bak. Maar is alles wat ons in die koek gooi, lekker? Kom ons proe ’n paar van die bestanddele: (laat hulle proe aan die meel ens, en laat hulle sê of is dit lekker.) En hierdie eier, dit kom ook in ‘n koek. Wie sien kans om die rou eier te proe? Is ‘n koek lekker? Ja, natuurlik is dit! Hoekom dink julle het ons hierdie goed in die resep? Net om dit vir ons almal sleg te maak? Nee, al hierdie dinge, lekker of sleg, maak saam die koek baie lekker! As ek nou alles bymekaar gooi wat lekker is soos byvoorbeeld; sjokolade, beskuit, ontbytpap, koeldrank, koffie, shorbet, smarties. Dink julle dit gaan lekker wees? Nee, ek dink nie so nie. Dis hoekom ons die 10 gebooie nie moet sien as iets wat sleg is of as ‘n straf nie. Dit is ‘n resep wat God vir ons gee om lekker en gesond te kan lewe soos kinders van God.

 

Skriflesing

Eksodus 20:1-17

 

Wat kan ons hieruit leer?

Ons het laasweek geleer dat ons God moet aanbid. Hierdie week het ons geleer hoe ons teenoor ander mense moet optree. Kom ons sê dit gou weer op:

  1. Eer jou vader en jou moeder.
  2. Jy mag nie moord pleeg nie.
  3. Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
  4. Jy mag nie steel nie.
  5. Jy mag nie jok nie.
  6. Jy mag nie begeer nie.

 

Kom ons bid saam…

Liewe Jesus, help ons om lief te wees vir ander mens. Help ons om mense mooi te behandel. Dankie dat U vir ons lief is, help ons om ander mense ook lief te hê!

 

Riglyne vir die opvoeder

Benodighede:

  • Wondergom (prestik)
  • Prentjies wat die laaste 6 gebooie uitbeeld.
  • Groot plakkaat wat julle saam gaan gebruik.
  • ‘n Sakkie met koekmeel
  • ‘n Teelepel botter
  • Stukkie sjokelade
  • Suiker en ‘n eier

 

Tuisopdrag: Leer die 10 gebooie.