Ek onthou as kind was daar ‘n advertensie op TV wat ‘n multi-vitamien, Salusa 45, geadverteer het. Die produk is gerig op volwassenes wat 45 jaar en ouer is en belowe om jou dadelik te laat jonger voel en genoeg energie te gee dat jy steeds aktief kan wees. Ek onthou dat die mense in die advertensie stokoud gelyk het en dat ek by myself gedink het: Eendag as ek só oud is, moet ek tog onthou om Salusa 45 te gebruik sodat ek kan jonk voel en aanhou oefen!
Oor ‘n jaar bereik ek hierdie “mylpaal”. En ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Volgens my kinderdenke is ek nou amper “oud” en boonop het ek nog nooit eintlik so hard geoefen dat ek nou daarmee sou wou aanhou nie.
‘n Goeie vriend in ons gemeente het my bekendgestel aan die boek, Half Time, geskryf deur Bob Buford. Die boek handel oor hoe jy die tweede helfte van jou lewe steeds betekenisvol kan leef. Die subteks van die boek is: From success to significance.
Na aanleiding van hierdie boek en die Salusa 45 botteltjie wat vir my wink, is ek deeglik bewus daarvan dat ek oor ‘n jaar van nou heel waarskynklik die tweede helfte van mý lewe betree en dit laat my die afgelope tyd met ‘n klomp vrae in my kop: Het ek die eerste helfte van my lewe regtig sinvol geleef? Leef ek werklik elke dag tot eer van God? Wat hou die tweede helfte vir my en my geliefdes in?
So moeilik as wat vrae soos hierdie is om vir jouself te beantwoord, so gesond dink ek is dit om bietjie stil te staan voor ‘n belangrike oorgang in jou lewe. Jóú oorgang is dalk ‘n nuwe werk, ‘n nuwe verhouding, ‘n baba wat oppad is of dalk is dit ‘n onbekende pad wat jy sonder jou huweliksmaat moet aandurf. Dit kan wees dat jy na baie produktiewe jare aftree of dalk verhuis jy na ‘n nuwe woning of selfs dorp. Sommige van hierdie oorgange is opwindend en ander is ‘n verlies, maar enige oorgang beteken dat jy vóór dit en daarná nie meer dieselfde persoon is nie.
Dis wanneer jou identiteit verander en jy jouself begin bevraagteken: Wie is ek nou? Hierdie oorgang maak dalk van jou ‘n nuwe ouer of iemand se bruid. Of dit maak van jou ‘n wewenaar of iemand sonder werk.
Met enige oorgang moet jy juis stywer as ooit vasklou aan jou identiteit in God: God se kind. Want geen oorgang kan dít verander nie. God is wel dieselfde God voor en na enige oorgang.
Galasiërs 4: 4 -7 herinner ons hieraan: Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.
Indien jy dalk nou of binnekort voor ‘n oorgang te staan kom, wil ek jou aanmoedig om opnuut jou identiteit in God vas te knoop.
Jy kan bietjie stilstaan by hierdie drie vrae om jou hiermee te help. Jy hoef dit nie dadelik te beantwoord nie. Lees dit en loop dan eers met dit in jou gedagtes rond. Bid daaroor.
- In die oploop tot hierdie oorgang, wanneer en waar het jy God se teenwoordigheid mees intens ervaar?
- Wat wil jy graag by God se voete los voor jy oorgaan?
- Wat het jy van God nodig om hierdie oorgang te kan meemaak?
Daar is enorme krag daarin om weerloos voor jouself en voor God te wees. Om stil te staan en diep in jou hart se kamers en jou kop se donker hoekies te gaan kyk. Bietjie reg te pak, weg te gooi en te herrangskik. Daar is altyd waarde daarin om die moeilike vrae saam met God aan te pak.
Ek hoop om my laaste jaar van “jonkwees” aan te pak sodat ek met gemak kan oorstap na ‘n volgende fase (met of sonder Salusa 45!). Ek wil nie onnodige bagasie saamsleep wat my gaan terughou of weerhou van ‘n lewe wat God vir my droom nie. Ek hoop om na elke oorgang wat nog vir my voorlê nuwe betekenis te kan vind en elke keer opnuut my identiteit as God se kind en erfgenaam te kan raaksien.
En ek wens dit ook vir jou!
Liefde,
Sonnika