'n Leergemeenskap

Ons gemeente het ‘n  leergemeenskap in 2024 begin – bekend as KOLLEGIO. Hierdie leergemeenskap dien nie net ons eie lidmate nie, maar enige persoon is welkom om die kursusse by te woon.  

 

Die woord “Kollegio”, verwant aan die Latynse woord “collegium”, verwys na ‘n gemeenskap of groep mense wat verenig is deur ‘n gemeenskaplike doel. In die konteks van onderrig dui dit op ‘n plek van gemeenskaplike leer, waar individue groei en ontwikkeling beleef deur gesamentlike studie. Kollegio skep dus hierdie gevoel van ‘n veilige en stimulerende gemeenskaplike ruimte wat toegewy is aan intellektuele en geestelike groei. Dit is ‘n gepaste naam vir ons leergemeenskap, wat fokus op die bevordering van geloof en kennis binne ‘n liefdevolle en ondersteunende gemeenskap. 

Daar is drie bane tot kursusgangers se beskikking:

woord

Leer meer oor die Bybel.

wese

Leer meer oor spiritualiteit en jou verhouding met die Here en jouself.

lewe

Leer meer oor aspekte van ons elke-dag-lewens.

Daar is verskillende tipes kursusse beskikbaar: 

 

  • Sommige kursusse loop oor ‘n paar weke 
  • Ander geleenthede vind oor een of twee aande plaas 
  • Sommige kursusse het ‘n koste aan verbonde terwyl ander weer gratis is 

 

Op dié manier wil ons graag ‘n ruimte skep waar persone binne hulle persoonlike situasie, soos moontlik,  ‘n leergeleentheid kan bywoon. 

KWARTAAL 2 - 2025

OPSOEK NA JESUS

'N REIS DEUR DIE EVANGELIES

“Die Evangelies is nie net vier verslae nie—hulle is vier uitnodigings om Jesus te ontmoet!”

DINSDAE 8 APRIL – 17 JUNIE

18h30 – 20h30

AANGEBIED DEUR PROF CHRIS DE WET

Wie is Jesus regtig?
Elke Evangelie skets ’n unieke portret van Hom—van lydende Messias tot ewige Woord. Maar hoe verskil hierdie uitbeeldings, en wat beteken dit vir ons vandag? In hierdie kursus ondersoek ons Jesus soos Hy in Markus, Matteus, Lukas en Johannes verskyn, én wat geskiedkundiges oor die historiese Jesus sê.

  • Die unieke fokus van elke Evangelie ontleed: Waarom sien Markus Jesus as lydende Messias, en Johannes as God self?
  • Die historiese Jesus bestudeer: Wat weet ons oor Sy lewe, boodskap en invloed buite die Bybel?
  • Moderne geloofsvrae aanspreek: Hoe verhoud Jesus se verskillende uitbeeldings tot mekaar? Watter Jesus volg ons?
  1. Hoekom fokus Markus op Jesus se lyding? Wat leer ons uit die “geheime Messias”-temas?
  2. Is Matteus se Jesus ’n nuwe Moses? Hoe herhaal die Bergrede die Sinai-verbond?
  3. Waarom is Lukas se Jesus so gasvry teenoor heidene, armes en uitgestotenes?
  4. Johannes noem Jesus “die Woord”—beteken dit Hy is God? Hoe verwerk hierdie Evangelie filosofie en mistiek?
  5. Wat sê geskiedkundiges oor Jesus se doop, wonderwerke en kruisiging?
  6. Verskil Paulus se Jesus van die Evangelies s’n?
  7. Hoe het die vroeë kerk hierdie verskillende Jesus-beelde versoen?
  8. Watter Jesus spreek jou die meeste aan—en hoekom?
  9. Hoe sien jy vir Jesus, en hoekom só?
  • Gelowiges wat Jesus van alle kante wil ken
  • Leiers wat die Evangelies beter wil verstaan vir prediking of bybelstudie
  • Enigeen wat nuuskierig is oor die spanning tussen geloof en geskiedenis
  • Krities maar gelowig: Ons neem die teks ernstig sonder om vrae te vermy.
  • Interaktief: Ruimte vir gesprekke en persoonlike insigte.
  • Prakties: Duidelike toepassings vir geloof en lewe.

ALLES OOR GENESIS

'N REIS DEUR EEN VAN DIE OUDSTE BOEKE IN DIE BYBEL

WOENSDAE 9 APRIL – 18 JUNIE

18h30 – 20h30

AANGEBIED DEUR PROF CHRIS DE WET

R150 pp (materiaal ingesluit)

Wil jy die eerste boek van die Bybel regtig verstaan?

Duisende jare gelede geskryf, maar vandag nog vol waarheid en wysheid—Genesis is die grondslag van ons geloof. Maar hoe pas skepping, die sondeval, die vloed en die aartsvaders by mekaar? En wat beteken dit vir ons vandag?

  • Die historiese agtergrond van Genesis ondersoek: Wie het dit geskryf? Wanneer? Hoekom? Hoe pas dit in by ander ou nabye-Oosterse mites?
  • Die teologie ontleed: Wat leer Genesis ons oor God, menswees en verbond?
  • Moderne wetenskaplike en morele vrae hanteer: Hoe verhoud skepping en evolusie? Is die verhale simbolies of geskiedenis?
  1. Was daar regtig ’n letterlike sesdaagse skepping? Hoe verstaan ons Genesis 1 in ’n wetenskaplike era? Wat is die boodskap van die skeppingsverhaal?
  2. Wie was Adam en Eva? Historiese mense of simboliese figure?
  3. Het die sondvloed wêreldwyd gebeur? Wat sê argeologie en kultuurgeskiedenis?
  4. Wat is die boodskap van die Toring van Babel-storie?
  5. Wat is die aard, betekenis en funksie van die stories van die aartsvaders?
  6. Hoekom is Abraham se verhaal so belangrik? Wat het dit met ons verbond vandag te doen?
  7. Is Josef se storie ’n morele les of God se voorbeskikking?
  8. Hoe verwerk die Nuwe Testament Genesis? (Wenk: Jesus en Paulus verwys gereeld daarna!)
  9. Wat beteken “na God se beeld geskape wees” in ’n moderne wêreld?
  10. Kan ons Genesis glo én die wetenskap ernstig opneem?
  11.  
  • Gelowiges wat die Bybel dieper wil bestudeer
  • Leiers wat vrae van gemeentelede wil beantwoord
  • Enigeen wat nuuskierig is oor hoe geloof en rede mekaar ontmoet
  • Krities maar gelowig: Ons neem die teks ernstig sonder om vrae te vermy.
  • Interaktief: Ruimte vir gesprekke en persoonlike insigte.
  • Prakties: Duidelike toepassings vir geloof en lewe.

HUWELIKSKURSUS

VIR VOORNEMENDE HUWELIKSPARE SOWEL AS GETROUDE PARE

WOENSDAE 7 – 28 MEI

18h30 – 20h30

AANGEBIED DEUR DR ZANDER VAN DER WESTHUIZEN

Hierdie kursus is ‘n moet vir voornemende huwelikspare sowel as getroude pare. Die kursus is gebasseer op die Alpha Huwelikskursus en word oor vier weke aangebied. Paartjies sit by hul eie tafel en bring ‘n piekniekmandjie saam. ‘n Gesprek word gefasiliteer en paartjies deel slegs in gesprek met mekaar en nie in die groter groep nie. Daar is praktiese oefeninge wat gesprek stimuleer en paartjies ‘n geleentheid gun om weer alleen-tyd met mekaar te spandeer.  

  • Fondasie van ‘n verhouding 
  • Kommunikasie 
  • Konflik 
  • Gesinskulture 
  • Vergifnis 
  • Familiebande 
  • Die Bybel en die huwelik 
  1. Iets te ete en te drinke (sommer al die eerste aand). Jy is welkom om ‘n piekniekmandjie te pak. Pizza en wyn of sushi en koeldrank. Enige iets wat jy geniet! 
  2. ‘n Skryf-ding 

ouerskap

'N GESPREK OOR DIE BYTJIES EN BLOMMETJIES, SPESIAAL VIR LAERSKOOL OUERS

WOENSDAG 23 APRIL

18h00

AANGEBIED DEUR SONNIKA NEL

Mamma, waar kom babas vandaan?

Hierdie vraag laat laerskoolouers dikwels benoud rondsoek na die “regte” antwoord.  Hierdie is egter die perfekte geleentheid om die fondasie te lê vir ‘n lewenslange, openhartige gesprek met jou kinders oor geslag en seksualiteit.  Hierdie sessie wil jou as laerskoolouer toerus om met meer selfvertroue en vrymoedigheid met jou kinders te kan gesels oor die bytjies en blommetjies.

  • Wanneer is die regte tyd om met my kinders hieroor te praat?
  • Wat doen ek as hulle vra het wat ek nie kan antwoord nie?
  • Hoeveel behoort laerskoolkinders te weet?
  • Waar begin ek met hierdie gesprek?

Die lokaal sal nader aan die tyd aan diegene wat ingeskryf het, deurgegee word.

Belangrike nota:  Aangesien sensitiewe onderwerpe bespreek gaan word, word geen kinders van enige ouderdom by hierdie sessie toegelaat nie.  Laerskool Tygerpoort gaan wel toesig reël vir die maats wat nie ander toesig het in hierdie tyd nie.

WOORD-BAAN

KURSUSSE

In hierdie kursus hanteer ons die belangrikste inleidende vrae wat meeste lidmate oor dink i.t.v die aard van die Bybel, hoe die Bybel ontstaan het, en hoe ons die Bybel moet lees.  

Die eerste week bied ‘n inleiding en oorsig oor hierdie temas, en oriënteer die leerder in die belangrikste temas van hierdie gesprek. Week 2 vra ons wat die Bybel is en nie is nie. Dit hou verband met ons leesbenadering van die Bybel, Bybel en teologie, Bybel en wetenskap, sowel as kwessies van inspirasie. Weke 3 en 4 bied ons ‘n strategie oor hoe ons die Bybel moet lees. Dit is basies is in-diepte verkenning van nie net Bybelstudie tegnieke nie, maar ook eksegese, toepassings, en hulpbronne vir Bybelstudie. Weke 5 en 6 kyk ons, afsonderlik, na die ontstaansgeskiedenis van die OT en NT, en hoe die individuele geskrifte uiteindelik as “kanon” versamel is, sowel as verskillende kanons en die plek van apokriewe en ander nie-Bybelse materiaal.  

Laastens word Bybelvertalings bespreek – hoe werk Bybelvertaling, kan ons Bybelvertalings vertrou, en watter doel het die verskeie vertalings? Hierdie kwartaal bied dus ‘n belangrike oriëntasie tot komende en meer gefokusde werk in die kursusse wat volg. 

In hierdie kursus skerp ons ons fokus op spesifieke boeke van die Bybel, in hierdie geval, die Evangelies. Hierdie opwindende kwartaal begin ons met vraag: wie was Jesus, en wie was hy nie, en waarom was hy so radikaal? Ons kyk dan na die verhouding tussen die vier Evangelies, sowel as die onderliggende boodskap. Uiteindelik word elke Evangelie op sy eie in detail bestudeer. Hier gee ons vir jou kennis oor die struktuur, uitleg, kulturele en historiese agtergrond, boodskap en doel van elke boek. Jy word dan ook van vaardighede voorsien wat jou in staat sal stel om elkeen van hierdie boeke met meer diepte te kan lees en verstaan. 

In hierdie kursus sal ons die boek Genesis ondersoek, met spesifieke fokus op die skeppingsverhale, Adam en Eva, die  Sondvloed, die toring van Babel, en die patriargale geskiedenis van Abraham, Isak en Jakob. Ons sal kyk na die teologiese betekenis van hierdie narratiewe en hoe hulle die grondslag van die Israelitiese geloof en identiteit vorm. Deur die verhaal van die aartsvaders te bestudeer, sal ons ook die verband tussen diegene wat die beloofde nageslag is en die groter verband van God se reddingsplan vir die wêreld ondersoek. Verder sal ons die agtergrond van Genesis in die konteks van die antieke Nabye-Ooste verken, en kyk hoe die oorspronklike kulturele en filosofiese invloede in hierdie verhale na vore kom. 

In hierdie kursus sal ons die boek Openbaring in diepte ondersoek, met ‘n spesifieke fokus op die ryk simbooltaal wat in die boek voorkom. Ons sal die betekenis van simboliese figure soos die 144 000, die getal 666, die rooi draak, Babilon, die Nuwe Jerusalem, Armageddon, die wegraping, en vele ander simbole ontleed. Deur hierdie simbole in hul konteks te verstaan, sal ons probeer om die apokaliptiese boodskap van Openbaring te ontrafel en die teologiese, historiese en sosiale impak daarvan vir die vroeë Christelike gemeentes sowel as vir ons vandag te begryp. Ons sal ook kyk na die rol van visioene en simboliek in apokaliptiese literatuur en hoe hierdie visies die hoop en moed van gelowiges in ‘n tyd van vervolging versterk het. 

In hierdie kursus sal ons die lewe en reise van die apostel Paulus en die wese van sy geskrifte ondersoek. Deur Paulus se briewe en die Handelinge van die Apostels te bestudeer, sal ons ‘n dieper begrip kry van sy biografiese besonderhede, sy teologie en sy etiek. Ons sal kyk hoe Paulus se persoonlike ervaringe en sy missie vir die evangelie sy denke gevorm het, en hoe hy praktiese riglyne vir die vroeë Christelike gemeentes gegee het. Die kursus sal nie net fokus op Paulus se teologiese opvattings nie, maar ook op die etiese uitdagings wat hy aangespreek het, en hoe sy leringe steeds relevant is vir die hedendaagse geloofsgemeenskap. 

WESE-BAAN

KURSUSSE

Lees meer oor die gemeente se dissipelskap-proses hier:

Die Enneagram is ‘n hulpmiddel wat ons toerus om onsself en ander beter te verstaan. Elke mens het ‘n ander manier van kyk na die werklikheid, asook verskillende idees, motiverings en uitkyke op die lewe. As ons dit kan begin raaksien, kan ons leer om onsself en ander te waardeer en voluit te lewe. Ons kan ook beter verstaan waarom daar uitdagings in ons verhoudings is wat ons uitdaag of irriteer.  

Ons kan nie die mense om ons verander nie, maar ons kan wel as persoon groei en so ook leer om verskillende situasies beter te hanteer. Baie verhoudingsprobleme is juis as gevolg van ‘n tekort aan selfkennis. 

Basiese uiteensetting van die kursus 

Die Narratiewe Tradisie bevorder ‘n oop verkenning van elke persoonlikheidstipe deur die interaktiewe metode van paneelonderhoude te gebruik. Wanneer die mense in die groep begin deel, word al die tipes van die Enneagram lewendig. 

In hierdie kursus sal jy genooi word om: 

  • Jou Enneagram-tipe te ontdek en uit te vind wat die wyse is waarop jy in die wêreld opdaag en wat jou motiveer. 
  • Dieper te delf in elk van die nege verskillende tipes en jou motivering, fokus van aandag, emosionele gewoontes, sterkpunte en verhoudingsuitdagings te ontdek. 
  • Ervarings te deel en by mekaar te leer. 

Die Nege Enneagram Tipes is: 

Tipe 1 – Die Perfeksionis 

Tipe 2 – Die Helper 

Tipe 3 – Die Presteerder 

Tipe 4 –Die Romantikus 

Tipe 5 – Die Observeerder 

Tipe 6 – Die Lojalis 

Tipe 7 – Die Genotsoeker 

Tipe 8 – Die Beskermer 

Tipe 9 – Die Vredemaker 

Daar is min van ons wie se lewe nie deur die eise van ’n besige lewe geaffekteer word nie. Hoe kan mense met besige lewens daarin slaag om ’n dieper lewe met ’n gesonder werk/rus ritme te leef? 

Gesprektemas sluit in: 

  • Onrealistiese eise 
  • Multi-tasking 
  • Uitbranding 
  • Bewustelikheid 
  • Heilige Ritmes 
  • ‘n Gesonde werk rus ritme 
  • Die Sabbatsbeginsel 
  • Rol van rus 
  • “In praise of slow” 
  • Leef met meer onderskeiding 
  • Om ja te sê en nee te sê 
  • “Atomic habits” 
  • Praktyke van orde 
  • ‘n Gebalanseerde lewe 

Bring asseblief saam: 

  • Iets te ete en te drinke (sommer al die eerste aand). Jy is welkom om ‘n piekniekmandjie te pak. Pizza en wyn of sushi en koeldrank. Enige iets wat jy geniet!
  • ‘n Skryf-ding

Die Onse Vader gebed is die bekendste gebed in die Bybel. Dit is ook in sekere op sigte die vreemdste gebed. Die Onse Vader is ‘n wonderlike geskenk wat Jesus vir ons nagelaat het om ons te lei in refleksie van wie God is en wie ons in God is.  

Met hierdie kursus ondersoek ons die oorsprong van die Onse Vader gebed en wys hoe dit ‘n vermaning is tot sosiale geregtigheid, medelye, en die uitvoering van God se wil op aarde. Die kursus bied ook ‘n toeganklike en insiggewende blik op die diepgaande betekenis van die Onse Vader gebed wat ons inspireer tot positiewe verandering. 

Ons gebruik Matteus 6:9-13 se weergawe wat ons opdeel in 2 dele nl.  

  1. Verse 9-10 (fokus op God) 
  1. Verse 11-13 (fokus op mens) 

 Met hierdie kursus sal jy nie alleen ‘n goeie begrip op die kompleksiteit en diepte van die Onse Vader gebed hê nie, maar ook ‘n nuwe bril waarmee die Bybel in die geheel in volle kleur bekyk kan word.  

Belydenis van geloof geskied gewoonlik in ‘n lidmaat se graad 11 jaar, aan die einde van die jeugprogram. Dit dien as ‘n oorgang na die tweede fase van geloof. Dit is egter nie die enigste tyd wanneer mens deur hierdie proses kan gaan nie. Weens verhuising, verskuiwing van kerktradisie of selfs die Covid-pandemie het party mense nooit die geleentheid gehad om belydenis van geloof af te lê nie.   

 

Hierdie kursus is bedoel vir hierdie groep lidmate wat graag hul geloof vir hulself, voor die gemeente en voor die Here wil bely. Die kursus sluit in gesprekke oor; 

  • Persoonlike geloof 
  • Die NG Kerktradisie 
  • Die Belydenisskrifte 
  • Die Bybel 
  • Betrokkenheid as lidmaat 

Let asb op dat hierdie ‘n formele proses is waarby die kerkraad ook toestemming gee.  

Het jy nodig om na ‘n besige jaar weg te kom, stil te word en tyd met die Here te spandeer? Het jy nodig om te rus, te reflekteer en uit te kom by dit wat belangrik is? 

 

Die jaarlikse Retreat by die Origins Retreat Sentrum vind die eerste naweek in November plaas. Dit is die perfekte geleentheid om tussen die pragtige natuurskoon van die Magaliesberge by jouself en die Here uit te kom.  

 

Tydens hierdie naweek wat Vrydagmiddag begin en Sondagoggend eindig, sal jy geleentheid kry om te reflekteer, meer oor stilte te leer en dit te ervaar, te rus, te kuier en bowenal te verdiep in jou verhouding met die Here. By Origins word daar drie keer op ‘n dag ‘n stil-diens in Poustinia gehou. Tydens hierdie dienste sing ons, luister na ‘n Bybelteks en word saam stil. 

 

Die fasiliteite is besonders, die omgewing inspirerend en die stap ‘n belewenis. 

 

Kontak vir Riana by die kerkkantoor of by ngtyger@ngtyger.com  om in te skryf of meer inligting te bekom. 

LEWE-BAAN

KURSUSSE

Hierdie kursus is ‘n moet vir voornemende huwelikspare sowel as getroude pare. Die kursus is gebasseer op die Alpha Huwelikskursus en word oor vier weke aangebied. Paartjies sit by hul eie tafel en bring ‘n piekniekmandjie saam. ‘n Gesprek word gefasiliteer en paartjies deel slegs in gesprek met mekaar en nie in die groter groep nie. Daar is praktiese oefeninge wat gesprek stimuleer en paartjies ‘n geleentheid gun om weer alleen-tyd met mekaar te spandeer.  

 

Gesprekstemas sluit in: 

 

  • Fondasie van ‘n verhouding 
  • Kommunikasie 
  • Konflik 
  • Gesinskulture 
  • Vergifnis 
  • Familiebande 
  • Die Bybel en die huwelik 

 

Bring asseblief saam: 

 

  • Iets te ete en te drinke (sommer al die eerste aand). Jy is welkom om ‘n piekniekmandjie te pak. Pizza en wyn of sushi en koeldrank. Enige iets wat jy geniet! 
  • ‘n Skryf-ding 

Daar is stukke grondpad op ons almal se lewenspad.  Soms is dit iets wat ons gou kan agterlaat, maar ander kere bly die impak daarvan nog vir jare met ons.  Wanneer ons nie stop en die stof van die grondpad afstof nie, het dit die geneigdheid om ons later op ons pad weer in te haal. 

 

Hierdie vier-week werkswinkel is vir enige iemand wat al verlies, teleurstelling, seerkry of trauma beleef het en graag die stof wil afstof voor hulle verder stap.  Die werkswinkel gaan aangebied word om jou te begelei in die proses om jou stukkie grondpad te verstaan, te integreer en selfs te kan gebruik om jou pad vorentoe makliker te stap. 

Voorbeelde van persone wat by hierdie werkswinkel kan baat: 

 

  • Iemand wat baie seergekry het in ‘n verhouding met ‘n geliefde of ‘n familielid 
  • Iemand wat teleurstelling ervaar het en sukkel om vrede te maak daarmee 
  • Iemand wat verlies op enige terrein ervaar het 
  • Iemand wat al ‘n traumatiese insident of tydperk beleef het en voel dit het steeds ‘n impak op hul lewe (bv. rooftog, siekte, motorongeluk) 
  • Iemand wat ‘n diep behoefte het om vrede te maak met die verlede en ligter verder te reis 

 

Alhoewel die werkswinkel in groepsverband aangebied word, gaan elkeen op sy eie reflekteer en deur die fasiliteerder begelei word op ‘n pad van HERSTEL. Jy hoef dus geen inligting met die res van die groep te deel nie. 

Dit is die grootste voorreg om ‘n ouer te kan wees, maar meeste ouers ervaar een of ander tyd uitdagings op die terrein van ouerskap.  Deur hierdie toerusting-geleenthede poog ons om vir ouers praktiese toerusting in die hand te gee om moeilike ouerskapskwessies te kan hanteer. Verder bewerkstellig hierdie geleenthede insig by ouers in hul eie ouerskapstyle en hul kinders se unieke behoeftes.  

Ons gemeente se kinders is vir ons ‘n prioriteit en ons besef dat kinders ook gelukkige ouers nodig het! 
 
Hierdie is hoe ons jou as ouer wil help: 

 

  • Hulp en ondersteuning aan ouers deur individuele gesprekke met ouers en/of gesinne.  Soms is dit net nodig om oor ‘n koppie koffie weer moed en bietjie raad te kry vir die pad vorentoe! 
  • Ouerskapskursusse en werkswinkels om ouers toe te rus deur kreatiewe ouerskapsidees. (Hou ons program dop vir kursusse en werkswinkels wat aangebied word). 
  • Ouerskap-toerusting vorm ook deel van ons doopkursus, om reeds van die begin af gesonde ouerskapstyle te help vorm. 
  • Videos en artikels wat ouers begelei met praktiese raad en leiding 

Sertifikate

Vir sommige kursusse ontvang deelnemers ‘n sertifikaat op grond van getroue bywoning.

Die sertifikaat sal deur die aanbieder aan die einde van die kursus aan elke kwalifiserende kursusganger uitgedeel word.

Maak dus asseblief seker dat jy elke week getrou die bywoningsregister teken.

Betalings en inskrywings

Wees asseblief so gaaf om vir alle kursusse of geleenthede in te skryf (selfs al is hulle gratis).
Skryf in deur ‘n epos te stuur aan Riana de Wet by ngtyger@ngtyger.com.

Indien daar ‘n inskrywingsgeld betaalbaar is, betaal dit asseblief betyds in die gemeente se rekening:

NG Tygerpoort
ABSA : 163 058 0060
Verwysing: Voorletters en Van – Kollegio

Aanbieders

Prof Chris de Wet

BIO

Prof Chris de Wet is professor in Nuwe Testament en Vroeg-Christelike Studie by UP. Hy is ook ‘n navorsingsgenoot by die Australian Lutheran College, University of Divinity, in Adelaide, Australië en ‘n genoot van die Australiese Akademie vir Geesteswetenskappe. Deeltyds is hy ook ‘n dosent in antieke Grieks en Latyn. Chris is outeur of mede-outeur van sewe boeke, skrywer van talle akademiese artikels en doen internasionaal aanbiedings oor sy navorsing. 

Sonnika Nel

BIO 

Sonnika Nel is ‘n maatskaplike werker en ons gemeente se Gemeenskapsbestuurder.  Sy het haar meestersgraad in maatskaplike werk voltooi en is deel van die bedieningspan by die gemeente. Haar fokus is op gesinne en verhoudinge en sy doen onder andere berading en fasiliteer ondersteuningsgroepe wat fokus op mense se herstelproses.  

Ds Marco Koch

BIO 

Ds Marco Koch is predikant van die NG Gemeente Tygerpoort en het buiten sy meestersgraad in teologie ook ‘n honneursgraad in antieke kultuurgeskiedenis. Die historiese konteks en kulture van die tyd waarin die Bybel geskryf is vir hom kardinaal as vertrekpunt om die Bybel te verstaan. Hy is passievol en leef sélf met ‘n mediatiewe spiritualiteit wat diep gegrond is in gebed.   

Dr Karin Steyn

BIO 

Dr Karin Steyn is predikant van die NG Gemeente Tygerpoort en het onlangs haar PhD in Nuwe Testament en Sosiologie voltooi. Haar fokus binne haar studies was identiteit vorming veral binne die Johannese groep. Haar liefde lê in navorsing wat die belangrike rol tussen geloof en identiteit uitlig. Tans werk sy op Vroue gesondheid in die vroeë kerk onder Prof. Chris de Wet in haar Post Doc by die UP.  

Dr Marina van der Linde

BIO

Dr Marina van der Linde is voltyds in diens van die Ooskerk, waar sy onder andere verantwoordelik is vir geestelike formasie en spiritualiteit binne die gemeente en gemeenskap. Sy het haar PhD voltooi in spiritualiteit aan die Universiteit van Pretoria. Sy is passievol daaroor om mense te help om die Here in hulle alledaagse lewe te vind en vanuit ’n dieper persoonlike spiritualiteit getransformeerde lewens te leef. 

Ds Maartje van der Westhuizen

BIO :

Ds Maartje van der Westhuizen is predikant by die NG Gemeente Elarduspark en die assessor van beide die Oostelike Sinode en die Algemene Sinode van die NG Kerk. Sy is ‘n formeel opgeleide en professionele aanbieder van die Enneagram (binne die Narratiewe tradisie).  

Dr Zander van der Westhuizen

BIO :

Dr Zander van der Westhuizen is ‘n predikant van die NG Gemeente Tygerpoort. Hy het sy PhD aan die Universiteit van Pretoria in huweliks-en gesinspastoraat voltooi. Hy bied al verskeie jare o.a. die huwelikskursus aan en fokus veral op die narratiewe benadering tot begeleiding van paartjies om te floreer in hul verhoudings. Hy fokus ook op dissipelskap, spiritualiteit en leierskapsontwikkeling.