web analytics

Oggend 29 Maart 2020

29
Mar

Ek is seker ‘n klomp van ons het Maandagaand op soortgelyke wyse verwyl. Ek en my gesin was saam met my ma-hulle en my suster en haar verloofde in die sitkamer. Vir 20 minute was ons vasgenael voor die televisieskerm omdat die president besig was om ‘n totale lockdown aan te kondig. Wat ons situasie dalk bietjie anders gemaak het, was dat my ma-hulle se huishulp se seuntjie, wat hulle eintlik maar help grootmaak en letterlik in my ma-hulle se huis bly, ook daar gesit het. Nadat die president sy aankondiging gemaak het en ons as familie gesels het oor die opsies vorentoe, sien ons hoe hierdie klein 11-jarige seuntjie se oë glinster. My ma vra toe: “Shaunie, is jy bang?”, waarna hy huilend sê: “Ja.” en in my ma se arms inklim.

In daai oomblik was daar net een ding in my gedagtes – ek ook.

Ek is ook bang. Ek is bang mense vir wie ek lief is, kry hierdie siekte. Ek is baie bang dat duisende mense oornag skielik werkloos is. Ek is bang vir die volgende drie weke want net dalk vind ek uit die juffrou was toe nie die probleem nie.

Meer nog. Ek is bang om te sê ek is bang. Vir ‘n predikant om te sê hy/sy is bang, is eintlik taboe. Gelowiges hoor mos male sonder tal in die Bybel: moenie bang wees nie!

In die week stuur iemand ‘n kort prekie vir my aan waar die prediker in soveel woorde eintlik maar sê dat vrees beteken dat jy nie jou hart vir die Here gegee het nie en dat dit jou in die hel gaan laat beland. Dan is daar natuurlik ook gedeeltes soos hierdie een in Matteus 8 waar Jesus amper geïrriteerd raak oor sy dissipels se baie realistiese en verstaanbare vrees.

Alles is aanduidings dat gelowiges en vrees eintlik nie saam loop nie.

Hoekom dan? Dit lyk so onregverdig. Vrees is nie iets wat ons kan beheer nie. Dis soos wanneer mense vir my sê ek moenie kwaad word nie, maar …  So asof die waarskuwing my enigsins gaan help om nie kwaad te word nie. Dis nie iets wat binne my beheer is nie.

Kom ons kyk bietjie indiepte na hierdie gedeelte (daar is baie) en kom ons wees eerlik – ons het op die oomblik tyd tot ons beskikking…

Die verhaal speel af in Kapernaum. Dit is die Joodse kant van die See van Galilea. Jesus preek. Hy maak baie mense op verskillende maniere gesond en die mense begin Hom eintlik oorval. Die See van Galilea is om baie redes eintlik baie interessant. Die Grieke en die Romeine het tien stede rondom die See van Galilea gevestig. Hierdie tien stede het bekend gestaan as die Dekapolis. Vir die Jode was hierdie tien stede die versinnebeelding van alles wat verkeerd was met die wêreld. Daar was badhuise, daar was tempels, daar was onrein kos en gebruike. ‘n Jood wou nogal ver wegbly van hierdie plek af.

Ek kan myself daarom nogal voorstel dat die dissipels eintlik huiwerig was om saam met Jesus in ‘n skuit te klim om oorkant toe te vaar. Maar hierdie man doen wonderwerke, so wat kan dan nou verkeerd gaan? Totdat die storm losbars… En ek, soos hulle waarskynlik ook, sou baie vinnig hierdie as ‘n teken sien dat ons nie daarheen behoort te gaan nie. God is eintlik besig om vir hulle te sê om dit te los!

Dit verduidelik eintlik in ‘n groot mate Jesus se reaksie vir my.

Die probleem is nie vrees nie. Die probleem is nie dat hulle bang is nie. ‘n Mens moet hulle vrees ook in die konteks plaas van dit wat Jesus vooraf gedoen het.

Net in die vorige paar verse kry ons hierdie gedeelte:

“Toe Jesus die menigte mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee om na die oorkant toe te vaar. ‘n Skrifgeleerde kom toe nader en sê vir Hom: ‘Meneer, ek sal u volg waar u ook al gaan.’ Jesus sê vir hom: ‘Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie.’ Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: ‘Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.’ Maar Jesus antwoord hom: ‘Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.’ Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.”

Waaroor gaan hierdie gedeelte dan? Dit gaan daaroor om Jesus te volg.

Jesus maak ‘n paar dinge duidelik:

Om Hom te volg –

  • beteken dat jy opofferings moet maak. Jy gaan jou aardse sekuriteit moet neerlê want die Seun van die mens het nie eers ‘n plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.
  • beteken dat daar ‘n ononderhandelbare stuk lojaliteit moet wees. ‘n Lojaliteit wat jou bewus maak van ‘n groter familiekonsep. My familie is nie net my bloed nie. My familie is almal aan wie ek verbind is deur Jesus. (Hieroor is daar nogal baie geskryf en verdien eintlik ‘n preek op sy eie – vra maar vir Karin om daaroor te preek ;).

Nadat hierdie radikale konsep van dissipelskap bekend gemaak is, klim hierdie outjies almal in ‘n skuit en volg Jesus na die verkeerde kant van die meer toe.

Ek wonder of dit nie dalk die rede is waarom Jesus reageer soos wat Hy reageer nie. Die probleem is nie die feit DAT hulle bang is nie. Dit is dalk eerder dat hulle vrees maak dat hulle Jesus nie wil volg soos wat hulle moet nie. Die probleem is dalk dat vrees hulle lam laat. Die vrees laat hulle terug kyk na Kapernaum en vra of hulle nie eerder daar kan wees nie, terwyl Jesus presies weet dat dit nou  nodig vir hulle is om te wees waar hulle is.

Die laaste opvallende ding in die teks wat ek vandag wil hanteer, is die feit dat Jesus klaarblyklik hier slaap. Dit is nogal moeilik om te glo, veral as jy weet hoe die bootjies in daardie tyd gelyk het en dat hierdie selfde skuit vol mans in rokke is… en daar is ‘n storm besig om op te steek.

Hoekom wil die teks hê ons moet weet dat Jesus slaap?

Rus was iets wat in die antieke mens se kop ‘n goddelike voorreg was. Die gode kon rus, maar die mens moes werk. Slaap was daarom ‘n simbool van goddelike heerskappy in die Nabye Ooste se kultuur. Die feit dat Jesus hier slaap, wys eintlik vir die leser dat Jesus hier met goddelike heerskappy optree.

In hierdie mal tyd waarin ons ons nou bevind, moet ons die volgende vir mekaar sê:

  1. Daar is vandag regoor die wêreld – ook in ons kerk en in ons huise – baie mense wat bang is. Ook gelowiges. En dit is okay. Dit is te verstane. Dit maak nie van jou ‘n slegter mens of Christen nie. Niemand was al in so ‘n situasie nie. Niemand kan sê wat gaan gebeur of hoe ons dit moet navigeer nie. Dit is vreesaanjaend!
  2. Vrees moet ons nie daarvan weerhou om vir Jesus te volg nie. Hierdie storm moet nie maak dat ons terug kyk nie. Dalk is ons nou juis in hierdie bootjie omdat Jesus met ons op pad is na ‘n plek wat noodsaaklik is. ‘n Plek waar die hele wêreld moet hoor van liefde en aanvaarding en geduld en ondersteuning en genade.
  3. Dalk is hierdie ‘n geleentheid vir sommiges om die goddelike voorreg van rus te beleef. Dalk moet jy skarrel – soos baie ander mense – om uit te vind hoe jy tussen kinders en internet en Skype deur jou werk moet doen.

Wat jy ookal in hierdie tyd gaan doen, wees altyd bewus van God se heerskappy en teenwoordigheid.

Ek sluit af met ‘n storie oor Martin Luther wat eendag gevra is wat hy sal doen as hy weet die wêreld gaan more eindig. Sy antwoord was: “ As die wêreld more eindig, sal ek vandag ‘n appelboom plant.”

Dalk is dit wat ons vandag moet hoor. Dalk is dit hoe ons ons vrees kan oorkom. In my eie lewe is dit vir my so interessant: deur bang te wees en my vrees vir myself te hou, help my niks nie. Deur te leef met hoop, deur te dien, deur om te gee, deur iemand by te staan, deur ander mense se welstand en gesondheid in gedagte te hou, verdryf ek die vrees. Dalk verdryf dit nie die vrees nie, maar oorweldig dit eerder die vrees. Selfs al bly die vrees staan, die liefde oortref dit altyd!

Amen