web analytics

Oggenddiens 16 Februarie 2020

16
Feb

Oggenddiens

16 Februarie 2020

Ek en my kinders ry die week in die kar en so sien ons die ongelooflikste reënboog reg voor ons. Maar ek bedoel regtig ongelooflik. Ek weet nie of ek al ooit so ʼn perfekte reënboog in my lewe gesien het nie. Die kleure, die boog, die wydte. En ek raak kinderlik opgewonde oor hierdie reënboog. Ek neem sommer foto’s en ek wys dit vir my kinders met die verwagting dat hierdie soort van ding nou presies die soort van ding is waaroor hulle ook opgewonde sal wees. My seuntjie het immers Noag se ark as kamerversiering. Maar tot my teleurstelling het my seuntjie gekyk, geglimlag en aangegaan om met die minimum reaksie in die kar te sit.

So sit ek toe en wonder: het die bewondering, die kinderlike opgewondenheid, alreeds ʼn klein bietjie uit hom begin gaan?

Want sien, die lewe kan mos maar hierdie dinge aan ons doen.

Jy steek jou nek uit vir iemand. Jy glo in iemand. En dan stel hulle jou teleur sodat jy sê, ek doen dit nie weer nie. Of dalk val ʼn verhouding uit mekaar uit sodat jy sê ek doen dit nie weer aan myself nie. Of dalk het jy al vir iets gebid. Iets goeds, iets belangriks, ʼn werk, genesing, sonder die antwoord wat jy wou hê.

En dit laat mens wonder.-. hoeveel stukkies van onsself verbrokkel soos wat jy jou lewenspad stap. Hoeveel reënboë het ons nie al in ons lewens agtergelaat sonder om te glimlag of reaksie te toon nie. Want ons het al op die harde manier agtergekom dat reënboë tydelik is en bedoel is om kinders te kalmeer na ’n storm. Mens sal in elk geval nooit die reënboog se punt kan vang nie. En so, met elke stop langs die pad, met elke afrit van ontnugtering, pyn en verlies word die reënboog verder en verder terug in die truspieëltjie gelaat.

Ek wonder nogal of dit nie een van die redes is waarom mens nie juis daarom dikwels deur identiteitskrisisse gaan nie. Waarom mense nie dikwels gevoelens van verwydering, ontworteling, beleef nie. Waarom mense dikwels so bewus is van ’n afstand tussen wat jy tans in jou lewe doen en wat jy behoort te doen. Tussen dit wat jy is en dit wat jy kan wees nie.

Daarom wil ek vandag stilstaan by Psalm 34. Ahoewel die hele psalm fassinerend is en eintlik al ons aandag verdien, gaan ek vandag na net een versie in hierdie psalm kyk. Dit is vers 9.

Dalk, net voor ons daarin spring, vir die mense wat konteks nodig het:

Psalm 34 is ‘n Akrostiese psalm wat beteken elke vers se eerste letter begin met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet. bv.  Almal van hulle het gesê, bekeer jou van jou sondes, Christus is jou verlosser. Die alfa En die omega…

Die psalm word aan Dawid toegeskryf en verwys na ‘n verhaal wat afspeel in 1 Samuel alhoewel hierdie opskrif vermoedelik eers deur ‘n latere redakteur bygesit is sodat die lesers sal weet in watter konteks hulle hierdie psalm moet lees. Met ander woorde een van konflik maar ook uiteindelik waar daar uitkoms is.

Noudat ons die mense wat detail geniet bietjie tegemoet gekom het, kom ons fokus op die vers wat genoeg is om ‘n hele preek aan te wy. Vers 9

Kom ondervind en sien dat die Here goed is.

Nou moet almal vashou aan hulle sitplekke want julle – hier is baie aan die gang.

Ek wil eerste begin met die woorde: Kom ondervind. Die vertalers het hierdie woord gebruik want hulle het geweet die Hebreeuse woord is eintlik ongelooflik ryk. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is Ta-am en beteken eintlik letterlik ‘proe’ of ‘smaak’. Om te kan proe is nie sommer net enige iets nie. Om te kan proe is ‘n belewenis. Dis ‘n ondervinding. ‘n Ondervinding is nie sommer net iets wat een deel van jou brein beïnvloed nie. Nee, dis jou hele wese. Vra enige iemand wat verslaaf is aan sjokolade. Of wat nie die smaak van koffie kan weerstaan nie. Nee, smaak is iets wat jou hele wese beïnvloed. Iets wat alles aan mekaar verbind. Dikwels is dit ook iets waarvan jy van vergeet het of wat jy agter jou gesit het. Jy kan dink jy het al vergeet van jou liewe oorlede ma, maar as jy die hoenderpastei proe wat sy altyd gemaak het verbind smaak jou sommer outomaties weer aan daardie emosies.

Hierdie is die woord wat die digter gebruik om te praat van God. Kom, smaak, word weer herinner aan dit wat jy al van vergeet het. Word weer herinner aan dit wat jy lankal afgesny het, en beleef dat dit goed is.

Maar daar is nog ‘n stuk wonder in hierdie metafoor want die skrywer haak aan by die metafoor van ‘n ete. Etes was vir die Jode baie spesiaal. Ons, wat vandag hier sit, is grootliks ook los van die hele proses wat nodig is vir ons om kos te kan eet aan tafel. Ons is nie bewus van die moeite, die sweet, die beplanning, die bekommernis oor droogte, die spanning oor ’n ongelukkige werkerskorps nie. Nee, ons kan volledig los van al hierdie dinge kos in die supermark koop en salig onbewus en onaangeraak vir ons romantiese Valentynsetes maak.

Maar vir ‘n Jood was dit anders. ‘n Jood was intens bewus van die magte wat buite hulle beheer was en wat kon maak dat vanaand se ete moontlik hulle laaste ete kon wees. En daarom was ‘n ete meer as net ‘n versorging van die fisiese liggaam. Dit was opnuut ‘n geleentheid om van vooraf te onthou waar hierdie kos vandaan kom. Daarom het Jode, vandag nog, uitgewerkte liturgieë, eredienste, gebede, rondom iets eenvoudigs soos ‘n aandete. Hierdie stukkie brood op die tafel herinner ons weer dat God vir ons sorg, dat die God wat ons dien, ‘n God is wat na ons omsien, ‘n God is wat vir ons die geskenk van lewe gee wat die liggaam en siel weer aan mekaar verbind en weer met mekaar laat praat.

Vir ’n Jood is ’n ete baie meer as net kom ons eet en kry ons mage vol. Dit was: kom ons staan stil en ons onthou, God sorg vir MY. Daarom is dit so maklik vir die psalmdigter om te sê: kom smaak en sien dat die Here goed is vir ons. Want jou hele wese kan dit bevestig. Elke ete is ’n geleentheid om jou te herinner dat jy afhanklik is van magte buite jouself, groter as jyself en daarom wil ek dankie sê.

Nou kan ’n mens seker sê dat ons intussen aanbeweeg het en dat ons nie meer so hoef te dink nie. Maar interessant is dat navorsing wys hoeveel positiewe effekte saameet aan tafel om huishoudings het. Daar is navorsing gedoen en bevind dat gesinne wat 5 keer ’n week saam aan tafel eet 50% minder gevalle van depressie, eetsteurnisse, chemiese afhanklikheid ens gehad het. Daarmee sê mens nie dat saameet al hierdie dinge noodwendig gaan uitsluit nie maar dit sê wel dat etes, op watse manier dit ookal mag wees, ’n manier het om gesinne te help om bymekaar te bly. Om connected te bly. Dalk is dit juis etes wat hierdie mense help om te onthou wie hulle is, hulle siele te laat rus, wat alles help om jouself weer te ontdek.

Vir baie van ons is dit moeilik om God se sorg in sulke fisiese, akkute terme te sien. Ons leef in ’n wêreld waar ons eenvoudig net nie meer so oor God dink nie. Ek is in staat om vir myself te sorg.

Of

Ek het die Here vertrou maar tog het my kind sy werk verloor. Waar is die Here se sorg dan?

Hierdie paar woorde in die psalm probeer sy hoorders weer aan die eenvoudige waarheid herinner: God is goed. Dis nie iets wat die digter probeer bewys nie. Hy nooi sy lesers om in al hulle swaarkry, twyfel, suspisie, te kom aansit want dit is ’n belewenis. ’n Ondervinding wat vir homself sal praat.

In hierdie ontdekking is dikwels die herstel wat ons almal nodig het. Om weer iets van ons menswees te herwin.

Ek troos myself daaraan. Daar was ’n stadium toe reënboë ook vir my vervelig was. Daar was ’n tyd waar ek as kind ook nie die natuur en die omgewing om my waardeer het nie. Maar êrens langs die pad het ek opnuut weer ’n waardering daarvoor gekry. Dalk juis toe ek bewus geword het van die wonder van God.

Mag jy ook, waar jy ookal is, dalk daar waar jy ontnugter is, of daar waar jy verhard het agv teleurstelling, weer na ’n reënboog kyk, en sê: God is goed.

Of mag jy, dalk daar waar jy verwyderd voel van wie jy was of behoort te wees, beleef hoe God jou hart, siel en liggaam weer aan mekaar verbind deur sy sorg want God is goed.

Of mag jy, dalk daar waar jy bewus is van al die onsigbare kragte wat in jou lewe inspeel, ook weer opnuut besef dat die lewe ’n geskenk is. ’n Geskenk wat God jou gee – want God is goed.

AMEN