web analytics

Oggenddiens 26 Januarie 2020

26
Jan

26 Januarie 2020

Oggenddiens

‘n Baie ongemaklike ete

Wanneer Jesus iets met kos te doen het, gebeur groot dinge.

Wanneer Jesus vir Saggeus uit die boom roep, verklaar Hy sy intensie. Hy wil saam met hom eet. By hierdie ete kom Saggeus tot bekering.

Jesus se eerste opdrag aan Jaïrus nadat hy sy dogtertjie genees het, is dat hy vir hulle iets te ete moet gee.

Jesus roep vir Matteus om Hom te volg. Daar is ‘n dringendheid in sy stem , hy moet Hom na sy huis toe neem. Nie om teologie te praat nie, om saam te gaan eet.

Wanneer Jesus na sy opstanding voor sy dissipels staan, skrik hulle hulself oor ‘n mik en dink dis ‘n spook. Eers wanneer Hy saam met hulle eet en die gebakte stuk vis voor hulle breek, herken hulle Hom.

Die Emmausgangers stap onwetend saam met Jesus en dis eers as Hy die brood breek dat hulle Hom herken.

Tydens Jesus se laaste maaltyd breek Hy brood en verduidelik vir hulle dat dit sy liggaam is. Die aand voor Jesus gekruisig is, het Hy ʼn laaste maal saam met sy dissipels geëet. Hy het hulle toe gevra om, as Hy weg is, gereeld saam te eet en dan aan Hom te dink.

Dit lyk vir my of groot dinge gebeur om Jesus se tafels.Mense herken Hom aan hoe Hy brood breek en ‘n vis se graat uittrek.

Dit is ook elke keer die ruimte waarbinne goddelike dinge gebeur soos bekerings, helings en openbarings.

Vandag:

Mense praat vandag ook graag oor groot etes en lekker kos.

Kyk net hoeveel televisieprogramme is daar oor etes en kosmaak.

Laaste maaltyd

Die brood en wyn was natuurlik goeie tekens. Brood was destyds deel van elke maaltyd. Hulle het dit gebruik as lepels om die sous uit die bakke te skep, as servette om hulle hande mee af te vee. Sonder brood kon ʼn mens kwalik eet. Om dit as teken te gebruik was ideaal, want dit was altyd deel van die ete. Net so was wyn ook gewoonlik deel van ‘n ete.

Lukas 14: 1-24

Die titel “sondaar” het religieuse onreinheid binne die Joodse wêreld beteken. As gevolg van die oortreding van Mosaïese wette, asook die voorskrifte rondom kos en ander reinheidswette, is hierdie sondaars as onbevoeg beskou. Daarom het godsdienstige Jode geweier om saam met onrein mense te eet. Hulle was bang dat hulle kon “aansteek”.

Jesus het sulke openbare maaltye benut as geleenthede om die bestaande godsdienstige grense te verskuif en ’n nuwe ingesteldheid teenoor alle mense sigbaar uit te beeld.

Lukas se lesers was goed ingelig met die Grieks-Romeinse maaltydgebruike.

Die simposium was ’n geleentheid tot gesprek en debat (saam met kos en drank) wat direk na afloop van ’n formele banket gevolg het. Sedert die dae van Plato was hierdie simposiums ideale geleenthede om gesprek te voer met kollegas wat aan dieselfde filosofiese skool of godsdienstige groepering behoort het.

Tydens sulke maaltye het die gaste gewoonlik rondom die gasheer en eregaste se hooftafel op banke aangelê wat in ’n u-vorm, bekend as ’n “triklinium,” gerangskik was (Bartchy 1992:796ff).

Al die manlike gaste by sulke feeste is ’n paar dae voor die tyd amptelik deur slawe of werkers van die eienaar uitgenooi.

Op die dag van die fees is diegene wat die uitnodiging aanvaar het deur die slawe laat roep sodra die kos gereed was (gewoonlik in die namiddag, nadat die ergste hitte van die dag verby was). By die gaste se aankoms het slawe hulle voete gewas en lekkerruiksalf oor hulle hare en/of voete gegooi. Wanneer die gaste aangesit het vir die voorgereg, het slawe hulle regterhande (as die hand waarmee geëet is) gewas.

In Lukas 14 bevind ons ons saam met Jesus by die maaltyd van ’n belangrike Fariseër en dis op die Sabbat.

Fariseërs het gereeld saam geëet om hulle gemeenskaplike identiteit te handhaaf teenoor die sogenaamde onrein mense van die land, sowel as om godsdienstige kwessies te beredeneer.

Tussen die gaste verskyn daar skielik ’n man met ’n liggaamlike afskeiding. Aan die hand van Levitikus 15 weet ons dat sodanige siektetoestande deur die Jode as onrein beskou is.

Hierdie man se teenwoordigheid by die ete moes dus, net soos in die geval van die sondige vrou in Lukas 7:36-50, uiters problematies gewees het vir die reinheidsbewuste Fariseërs.

Jesus genees hom egter dadelik.

Jesus sien sy genesingsdaad ook binne sodanige konteks as ’n daad van hulp wat op die plek voltrek moet word ten einde onreines se reinheid daar en dan te verwyder.

Die hart van Jesus se lering aan die gaste word in vers 11 saamgevat.

Mense wat daarop uit is om hulle openbare status deur selfgesentreerde pogings te laat toeneem, sal dit uiteindelik verloor.

Ware eer en integriteit voor God en mense word slegs toegereken aan nederige mense, aan diegene wat nooit ten koste van ander hulleself vooropstel of hulle eie belange probeer bevorder nie.

Asof die atmosfeer aan die etenstafel teen hierdie tyd nie al gespanne genoeg is nie, draai Jesus nou na die gasheer toe met die opmerking dat hy nie in die toekoms weer hierdie belangrike gaste vir ete moet nooi nie.

Jesus gaan teen die heersende waardes van sy dag in.

Daar was nie iets soos gratis maaltye nie. Iewers later moes jy die gasheer weer beloon en was jy eintlik in die skuld.

Jesus maak dit duidelik dat die wat Hom volg nie langer meer so mag redeneer of optree nie.

Binne ’n samelewing waarin bykans niemand iets vrywillig vir iemand anders gedoen het sonder om iets terug te verwag nie, hoor Jesus se tafelgenote nou dat hulle weldade aan eerloses en noodlydendes weldade aan God self is.

Na al die gebeure by die ete probeer een van die gaste die gespanne situasie ontlont met ’n verwysing na die komende eskatologiese maaltyd van God (v 15).

Hierop reageer Jesus met ’n skerp verhaal oor ’n groot feesmaal. Hy verwys na die bekende gebruik van daardie tyd dat die eienaar sy slaaf (’n tweede maal) na al die gaste toe gestuur het wat vroeër reeds die uitnodigings na die ete toe aanvaar het (v 17). Nou, op die tydstip dat die kos gereed is, het al die genooides egter skielik “wettige” verskonings waarom hulle nie meer kan kom nie. Sonder om in al die eksegetiese besonderhede rondom die interpretasie van hierdie gelykenis in te gaan, is dit duidelik dat Jesus die godsdienstige mense in hierdie vertelling voorhou as diegene wat die uitnodiging na God se eskatologiese fees van die hand wys vanweë hulle selfgesentreerde agendas. Die uiteinde is dat hulle uitgesluit word van die ware fees van God, terwyl diegene wat deur hulle as sondaars en onreines geklassifiseer word as eregaste aan die hemelse Gasheer se tafel gaan aansit.

Die eienaar se reaksie op hierdie verskonings is skokkend. Hy stuur sy slaaf nou na ongenooides toe, en meer in die besonder, ook na die minder gegoede dele van die stad waar die arm mense in die smal straatjies woonagtig is (v 21).

Weereens ruil die rolle volgens Jesus om: Die vername godsdienstiges loop God

se godsdienstige feesmaal mis.

Slot:

Hierdie verhaal maak ons, wat dit soveel jare later lees, steeds baie ongemaklik.

Dit laat ons dink oor:

– Godsdienstige tradisies

– Die belangrike plek wat ons onsself gee

– God se nuwe inklusiewe groep.

Daar is nie vir Jesus ‘n skeiding tussen heilig en gewoon of tussen ‘ons’ en ‘julle’ nie.