Ons DNA

Wie ons is

NG Tygerpoort is ‘n dinamiese gemeente in die middel van ‘n uitdagende konteks!

Tygerpoort gemeente is ’n gemeente wat jou wil help om gesonde keuses te maak en die dieper sin van die lewe te ontdek. Ons skep ‘n geleenthede vir betekenisvolle verhoudings en gemeenskap in jou lewe. Ons wil jou van God se oneindige genade vertel en hoe jy elke dag uit Sy oorvloed kan lewe. Uiteindelik wil ons jou leer om te leef soos Jesus, nie ter wille van jouself nie, maar dienend in sy liefde. Ons glo dit is ‘n balans tussen gesonde selfinsig, sinvolle verhoudings, ‘n diep verbintenis met God en ‘n betekenisvolle lewe wat jy binne die ruimtes van die gemeente kan aanleer en vêrder in die gemeenskap moet uitleef.

Tygerpoort is ‘n gemeente wat nie ter wille van onsself bestaan nie. Ons bestaan ter wille van ons gemeenskap. Ons wil graag ‘n impak maak en mense met nood ondersteun. Jy sal dit sien wanneer jy ons skole, gemeenskapsprojekte of enige van ons bedieninge besoek.
Een van die uitstaande kenmerke van ons gemeente is gasvryheid. Daarom is ons inklusief, oop en verwelkom ons enige iemand. Jy kan jouself by ons tuismaak al wonder jy, twyfel jy of soek jy antwoorde. Jy kan jou jouself wees! Dalk word hierdie gemeente ‘n wonderlike reisgenoot op jou pad om God se ritme deur jou lewe te ontdek!

Ons gemeente is nie foutloos nie en het nie al die antwoorde nie, maar ons is opreg in ons broosheid en afhanklikheid van Hom. Saam pak ons die uitdagings van die daaglikse lewe aan – diep bewus van hoe nodig ons die Here en mekaar het!

Ons storie

Tygerpoort Gemeente het met 545 lidmate van Skuilkrans Gemeente afgestig. Die hoeksteen van die kerkgebou is op 23 Augustus 1981 gelê.

Die gemeente het toe uitsluitlik uit landbouhoewes bestaan. Heelwat ontwikkeling het intussen in die omgewing plaasgevind en daar is tans oor die 3500 lidmate in die gemeente.


As gemeente glo ons God het ons geroep om Hom te aanbid, onsself te ken, mekaar te versorg en in die wêreld te getuig; daarom is ons slagspreuk: nie ter wille van onsself nie.

Ons gemeente wil in alles wat ons doen hierdie slagspreuk uitleef!

Ons gemeente se leuse

nie ter wille van onsself nie 

 
As gemeente glo ons God het ons geroep om Hom te aanbid, onsself te ken, mekaar te versorg en in die wêreld te getuig; daarom is ons slagspreuk: nie ter wille van onsself nie. Ons gemeente wil in alles wat ons doen hierdie leuse uitleef! 

Wat glo ons?

  • Ons is God se gemeente en behoort aan Hom. 
  • Ons is ‘n NG Kerk en deel van die groter verhaal van gereformeerde kerke in die wêreld. Ons glo binne die gereformeerde gemeenskap en die NG Kerk in geheel saam in ons belydenisgrondslag: https://ngkerk.org.za/belydenisgrondslag/ 
  • Ons beweeg saam met die Here na die gemeenskap toe; daarom is ons ‘n missionale gemeente wat nie ter wille van onsself bestaan nie. 
  • Ons verstaan van kerk-wees het veral vier dimensies: ons verhouding met God, met jouself, met mekaar en met ons gemeenskap. 
  • ‘n Verskeidenheid mense is welkom in ons gemeente terwyl ons steeds staan by wat ons glo. 
  • God gebruik mense; mense wat oor verskillende gawes en passies beskik en ons identiteit lê in die uitleef hiervan. 
  • Ons verwag dat almal in die gemeente aan die hand van vier waardes (verantwoordelikheid, integriteit, diepte en liefde) sal inskakel en so deel word van God se beweging na die gemeenskap toe. 
  • Ons is broos, menslik en maak foute, daarom sal ons nooit te kenne gee dat ons al die antwoorde het of die einde van die reis bereik het nie. 

Die storie van die bord in die ingangsportaal

Wanneer jy in ons gemeente se ingangsportaal instap sal jy ‘n bord met ‘n lys beskrywende name vind. Daar is woorde soos “bekommerdes”, “verwardes”, “swerwers”, “verslaafdes” en “drama-queens”. Hierdie woorde word saam met verskeie ander gelys. 

Ons het een Sondag tydens ons eredienste vir lidmate gevra om al die name wat hul al genoem is of etikette wat al om hul nekke gehang is, te lys. Sommige van hierdie “identiteite” is wat lidmate hulself toe-eien, ander is wat hulle deur ander genoem is en van dit is stereotipes wat spottende wys op hul afgedwing is.  

Die punt is – dit is wie reeds in hierdie gemeente lidmate is. Ons verwelkom almal soos hulle is en vir jou. Dalk sal jy iewers die etiket wat om jou nek hang vind.  

Mag jy ontdek dat by hierdie gemeente die Here jou wil vry maak van al hierdie etikette. En mag jy, op jou eie tyd en binne jou eie reis, ontdek dat jou ware identiteit in die Here lê. 

Hoe hanteer ons moeilike etiese sake en verskillende interpretasies van die Bybel?

Die teologiese beginsels agter ons funksionering

Ons bou aan ‘n gemeente wat Koninkryksgedrewe leef en dink. Dit beteken dat ons ‘n geloofsgemeenskap wil wees wat God se koninkryk laat kom in alle aspekte van ons lewens. Vir ons gemeente sluit dit vier areas in:

Wat is NG Tygerpoort se droom vir die toekoms?

Ons wil die Here se Koninkryk laat kom orals waar ons as gemeente en as individuele gelowiges leef.

· ‘n Dinamiese gemeente-lewe wat lidmate toerus om ‘n balans te handhaaf tussen gesonde selfinsig, sinvolle verhoudings, ‘n diep verbintenis met God en ‘n betekenisvolle lewe wat jy diensbaar uitleef.

· Die skep van ‘n kultuur waarin almal welkom is, om net soos hul is, God se liefde te ontdek.

· Om deur kuns, stories en musiek ons opregte, brose en eerlike mens-wees te vier.

· Om deur diensbaarheid ‘n impak in ons gemeenskap te maak – veral vir kinders.

· Om Koninkryksbeginsels toe te pas op die wyse waarop ons al ons fasiliteite en kommersiële inkomste bestuur – met die doel dat die gemeente finansieel volhoubaar haar bediening kan aanhou groei.

· Liefland Baba- en Peutersentrum (Baba tot 3 jaar)

· Tiertjie Kleutersentrum (3 tot 5 jaar)

· Grondslagfase Naskoolsentrum (Graad 1 – 3)

· Intersenfase Naskoolsentrum (Graad 4 – 7)

· Kunstesentrum (Alle ouderdomme)

Die Kleutersentrum en Naskoolsentrum bestaan reeds vir meer as 30 jaar op ons terrein. Die gemeente het Liefland Dagsorgsentrum vanaf 2024 oorgeneem. Die ouers, kinders en personeel van hierdie bekende sentrum (voorheen net af in die pad) is nou deel van die NG Tygerpoort familie. Alhoewel alle ouderdomme van die dagsorgsentrum opgeneem word in ons sentrums is daar besluit om die bekende Liefland naam steeds iewers te behou. Hierdie wonderlike stuk geskiedenis bly behoue in die naam van ons Baba- en Peutersentrum.

Ons droom is om alle kinders op ons terrein se unieke karakter te ken, te vorm en uit te bou vanuit ‘n Christelike fondasie. Ons wil graag vir kinders ‘n veilige en huislike atmosfeer op ons terrein skep.

Ons gemeente verhuur ons fasiliteite uit vir verskeie funksies, vergaderings, konferensies en konserte.

Dit sluit onder andere in:

· Kerkruimte

· enRoute Teater

· Konferensielokale

· Tygerplein

Tygerplein is ‘n droom wat finaal in 2024 gerealiseer het. Tygerplein is ‘n bymekaarkom-plek vir ‘n gemeenskap. Tygerplein huisves onder andere NG Tygerpoort se Intersen-naskoolsentrum en Kunstesentrum. Die fasiliteite is multi-funksioneel ontwerp met ‘n ateljee, konferensielokale, klasse, badkamers en ‘n saal. In die middel van hierdie pragtige nuwe fasiliteite is ‘n plein met ‘n winkel en ‘n koffiewinkel (Kruis Bande). Die plein is strategies op die straat gebou – juis waar die hele gemeenskap ‘n tuiste kan vind.

Op die plein is ‘n muurskildery wat oor twee mure strek. Dit is ontwerp en geverf deur die kunstenaar, Annamé Parreira en haar span. Dit is ‘n uitbeelding van woorde soos hoop, geloof, liefde, lig en skep. Op die muurskildery is van die simbole te sien wat ook op die res van die terrein uitgebeeld word.

The labirint

Een van die maniere om te stap en bid – sonder om op ‘n reis te gaan – is ‘n sirkelvormige gebedsroete – ‘n labirint. ‘n Labirint word vir eeue reeds in die kerk gebruik as ‘n geestelike dissipline wat jou help om nader aan God te leef.

Op ons gemeente se terrein, voor die ingang van die kerkruimte, is so ‘n labirint.

‘n Labirint is nie ‘n doolhof (maze) nie. ‘n Labirint is ‘n pad (patroon) met ‘n duidelike begin- en eindpunt wat jy stap. Die pad neem jou na die middelpunt (God) toe en word dikwels uitgebeeld deur ‘n simboliese kruis. Soms neem die pad jou tot naby die middelpunt, dan eers weer verder weg en dan weer terug na die middelpunt toe. Terwyl jy die labirint stap, dink jy biddend na oor jou eie reis tot God. Daar is soveel waarde daarin om te stap en te bid. Om te fokus op God se teenwoordigheid in jou reis. Ons wil so naby as moontlik aan die middelpunt kom, dit is die doel van ons reis.

Met elke tree op die pad raak jy bewus van God. Met elke tree besef jy dat jy deel is van iets groter. Daar is iets spesiaal daaraan om ‘n labirint te stap. Dis asof mens se brein die egaligheid van die oneindigheid daarvan aanneem en die geroesmoes van denke tot fokus bring. Dit bring kalmte en helderheid.

 1. Stop by die ingang. Neem ‘n diep rustige asem. Wat hoor jy? Wat sien jy? Wanneer jy gereed is, laat jou voete die pad volg.

2. Vind jou eie tempo.

3. Maak jouself los van enige verwagtinge. Word bewus van wat jy ervaar terwyl jy stap. Die labirint bied vir jou ‘n spieël: dit wys jou presies wat jy moet sien en waarvan jy bewus moet word.

4. Die labirint is soos ‘n tweerigtingstraat: jy mag dalk verby iemand stap.

5. Raak stil in die middel. Rus. Wat neem jy waar? Wees oop vir enige insig wat na jou kom.

6. Wanneer jy reg is, stap dieselfde pad weer uit na buite.

7. Vertrou jou innerlike wysheid. Vertrou jou voete. Hulle sal jou lei na ‘n vredevolle plek.

Die wonderwerk waarna ons smag is nie om op water te loop nie – maar eerder om op die groen gras te loop en diep teenwoordig te wees in die oomblik wat God vir ons gee.

Teken in op ons weeklikse boodskap

* indicates required
/( mm / dd )