Personeel

RIANA DE WET

Kunsskoolhoof / Onderwyseres: Klavier, blokfluit, dwarsfluit, musiekteorie

 

Raziela STROEBEL

Onderwyseres: Musiek -viool, kitaar, ukelele

 

Lucia Poggenpoel

Onderwyseres: Sang, klavier

 

Michael Kitchener

Onderwyser: kitaar, baskitaar, elektriese kitaar en ukulele

Marita Mundt

Onderwyseres: Kuns

Riana de Wet behaal in 1992 haar BMus (Uitvoerende Kuns), in 1993 haar HOD, in 1994 haar BMus (Hons) in Klavierdidaktiek asook ‘n Universiteitsdiploma in Kerkmusiek aan die Universiteit van Pretoria. 

By Unisa behaal sy die Onderwyserslisensiaat in klavier in 1994, Musiekteorie graad 7 in 1991, kerkorrel graad 8 in 1994 en dwarsfluit graad 8 in 2004.

Omdat klavieronderrig ‘n passie vir Riana is, bied sy sedert 1990 privaatlesse in klavier aan.

Vanaf 2004 is sy betrokke by Tygerpoort Kunsskool en bied lesse aan in klavier, blokfluit, dwarsfluit en musiekteorie. In 2009 het sy die hoof van Tygerpoort Kunsskool geword.Riana leef haar ook sedert Desember 2016 uit as kerkorrelis van die NG Gemeente Tygerpoort.

Raziela Stroebel (néé Kosterman) behaal in 2010 haar BMus aan die Universiteit van Pretoria waar sy vioollesse by Viara Markova ontvang het. Sy spesialiseer in musiekonderrig en die uitvoerende kunste. 

As verhoogkunstenaar staan sy bekend as Raziela Grey en is ‘n rock ‘n roll-violis, ‘n jazzsanger en ‘n klasssieke virtuoos. Vir die afgelope 18 jaar tree sy landswyd op saam met kunstenaars soos: Joshua na die Reën, Stones and gold, Saarkie en andere. Sy deel die verhoog gereeld met Suid-Afrikaanse kunstenaars soos: Van Coke Cartell, Karin Zoid, Heuwels fantasties, F*kofpolisiekar, Laurika Rauch, Spoegwolf, Karlien van Jaarsveld en vele meer.

Raziela het toere in Suid-Afrika, Namibië en Nederland onderneem en het ongeveer 208 professionele optredes die afgelope drie jaar gehad. Raziela is ‘n fantastiese onderwyser wat uitstekend met haar studente op hulle vlak funksioneer.

Lucia Poggenpoel behaal in 2016 die BMus graad en ADK (Drama) aan die Potchefstroomse Universiteit en in 2017 die graad 8 Trinity eksamen in Musiek teater.

Musiek vorm ‘n integrale deel van Lucia se lewe en optredes lê haar na aan die hart. Sy het onder andere al opgetree in The Sound of Music en verskeie ander musiekproduksies deur Judy Page en ook optredes by Songwriter’s Society. Geestelike musiek is vir Lucia belangrik en sy bedien verskeie gemeentes in hul aanbiddingspan.

Lucia se passie is om haar studente te inspireer en te help om beter kunstenaars en musikante te word. Elkeen van haar jong studente is is vir haar baie kosbaar.

Michael Kitchener het op ‘n jong ouderdom sy musikale belangstelling begin kweek en het verskeie kwalifikasies wat sy passie ondersteun. Op die ouderdom van 14 jaar het Michael baskitaar vir ‘n plaaslike rockgroep “The Matchboxes” begin speel en het sedertdien ‘n dieper waardering vir musiek as ‘n geheel ontwikkel. Hy speel sedertdien vir verskeie kunstenaars en plaaslike orkeste om sy styl te diversifiseer. Michael studeer tans Jazz by TUT.

Marita Mundt se liefde vir kuns het reeds op baie jong ouderdom posgevat. Na skool het sy die korporatiewe wêreld betree en voortgegaan met kunsklasse. Later in haar lewe het sy ‘n kunsskool begin en kon op hierdie manier uiting gee aan haar passie vir kinders en kuns.

In 2018 behaal sy haar kwalifikasie in Kunsberading deur die “Art Therapy Academy” van Suid-Afrika. Hierdeur kan sy haar passie vir God, kinders en mense uitleef om in elke kind en persoon wat haar pad kruis se lewe ‘n verskil te kan maak.

Ronelle Hartman

Onderwyseres: Kuns

Liezel vd Merwe

Onderwyseres: Moderne ballet, hip-hop

AnÉl Wood

Onderwyseres: Drama

Rensche Human

Onderwyseres: Musikmaker

Ronelle het deur die jare talle onafhanklike kursusse in verskillende fasette van die kunste bygewoon. Sy het ook ‘n diploma in Kunsterapieberading. Die kunste was altyd deel van haar lewe: van musiek, poësie, gewone crafts en uiteindelik ook die skone kunste. Selfs die geskiedenis van die skone kunste was altyd vir haar ‘n belangstelling. Om kuns vir kinders aan te bied, sal altyd vir haar ‘n voorreg wees. Sy is nie net bewus van die vreugde wat hierdie aktiwiteit aan kinders verskaf nie, maar ook van die talle voordele en ontwikkelingsvaardigehede wat kinders deur die beoefening van die kunste leer. 

Liezel van der Merwe bied by Tygerpoort Kunsskool dans aan, maar het ook ‘n dansskool naamlik Stars Dance Academy. Sy is die hoofafrigter van die dansskool en bied Hip-Hop, Moderne Ballet, Contemporêr, jazz en “body conditioning” aan. Liezel is tans besig met haar Honneursgraad in Sielkunde aan UNISA en het ook ‘n kwalifikasie in Commercial Theatre Dancing by Pretoria Technicon verwerf.

Liezel het haar professionele loopbaan as uitvoerende kunstenaar in die musiekblyspel “Camelot” begin. Sedertdien het sy in talle bekende musiekblyspelle opgetree.  

Liezel het ook haar horisonne verbreed as aktrise in TV-reekse soos “Egoli”, “Carpe Diem”, “Voete van goud”, “Onder draai die duiwel rond”, “7de laan” en “Binnelanders”.Liezel het saam met die regisseur Katinka Heyns in “Paljas” gewerk. Hiervoor het Liezel die M-Net toekenning vir Beste Ondersteunende Optrede ontvang vir haar rol as Emma. Die film “Final Solution” het haar die geleentheid gebied om saam met die Amerikaanse regisseur Chris Krusen te werk.

Liezel het ‘n passie vir dansonderrig en haar dansers bereik meesal Goud en Sillwer in die SABOD Hip-Hop en Uitvoerende Kunste kompetisies. Sy skryf haar dansers gereeld in vir kompetisies, eksamens en hulle dans elke jaar in ‘n jaareindkonsert by die Atterbury Teater.

Anél Wood voltooi in 2008 haar voltydse studies in Spraak, Drama en Toneel aan die Entertainer Teater. In 2012 verwerf sy haar diploma in Drama (Lisensiaat) aan die Spraak en Drama Gulde van Suid-Afrika en ontvang in 2015 verdere opleiding in toneelspel onder leiding van Shareen Swart verbonde aan PALI.

As aktrise is Anél op die verhoog te sien by nasionale kunstefeeste en teaters landswyd.

Anél is sedert 2015 ‘n stem- en oorklank-kunstenaar in verskeie korporatiewe video- en audioproduksies. Sy word gereeld gesien in TV-advertensies en ander produksies.

Anél het sedert 2010 reeds meer as 20 kinderproduksies vir verhoog en poppekas geskryf en vervaardig en as regisseur daarvan by skole en teaters in Pretoria en ander provinsies opgetree.

In 2012 stig sy die Werkende Akteurs Klub (in kort WACK) en gee sedertdien dramaklasse vir voor- tot hoërskool asook volwasse studente.

Anél is passievol oor die positiewe verskil en wonders wat drama as aktiwiteit en terapie in studente se lewe maak en verrig. Sy glo in voortdurende groei en sien die dramaklub as ‘n gemeenskap waar elke lid en selfs familielid ‘n belangrike rol speel.

Rensché slaag graad 12 met musiek as vak en klavier as instrument. Sy behaal BA, B.Ed(Psig) en HOD by UP waartydens sy ook deel is van die universiteitskoor vir 4 jaar. Na 7 jaar as onderwyser, lisensieer sy as Kindermusik opvoeder en fasiliteer hierdie wêreldbekende musiek- en stimulasieprogram vir 0-7 jariges vir 24 jaar by haar privaatstudio asook by skole.

Rensché sing 10 jaar onder leiding van Johann van der Sandt in die Singkronies kamerkoor en die laaste paar jaar in die volwasse ensemble Resonans. Sy neem ook deel aan die Capital Singers-projek wanneer moontlik.

Vanaf 2023 skakel sy oor na die Musik Makers-program vir 4-7 jariges.

Rensché se passie is om die liefde vir musiek (waarmee elke kind gebore word) te koester. Sy wil elke kind individueel leer ken in die proses sodat die kind bemagtig voel deur die aanleer van die taal van musiek asook die speel van ‘n instrument en daardeur uiting kan gee aan sy of haar indivualiteit.