Ons wil graag in ons gemeente vir lidmate ruimte skep om hulself uit te leef, diensbaar te wees maar ook te groei en te leer. ‘n Gemeente is ‘n dinamiese en organiese sisteem wat gereeld verander en vloeiend funksioneer. Binne ons gemeente is daar verskillende ruimtes waar lidmate ontmoet.
Hierdie ontmoetings is gereeld, sporadies, permanent of van korte duur. Sommige ruimtes word daagliks, weekliks, maandeliks of jaarliks geskep. Lidmate vind hul weg tussen deur hierdie ruimtes en ontmoet hulself, die Here en ander gelowiges op hierdie reis.
Ons wil elke lidmaat nooi om iewers “op te daag” in ten minste een van hierdie ruimtes. Dalk is dit net om ‘n erediens of ‘n kursus by te woon. Dalk is dit om diensbaar te raak of ondersteuning te vind.
Ons wil jou nooi om ook inisiatief te neem deur self nuwe ruimtes te skep waar mede-gelowiges die Here se liefde kan beleef.
EREDIENSTE TYDENS SKOOLKWARTALE IN DIE KERKGEBOU
Die eredienste is vir ons gemeente ‘n belangrike fokus. Die gemeente se uitgangspunt is dat elke erediens ‘n ander karakter moet hê, hoewel die fokus op suiwer prediking en opregte aanbidding by almal teenwoordig moet wees.
Die 08:00 oggenddiens word begelei deur die orrel en klassieke instrumente. Alhoewel daar nie net Liedboek liedere gesing word nie, word daar ‘n meer tradisionele liturgie gevolg. Die atmosfeer is steeds gemaklik en vriendelik. Kindertyd is ook deel van hierdie erediens se normale verloop.
Voorskoolse kinders kan tydens die erediens die kerkgebou verlaat om kleuterkerk by te woon.
Die 10:00 oggenddiens word begelei deur die orkes. Die liturgie is meer vloeibaar en fokus daarop om erediensgangers te help om die Here deur musiek te loof en prys. Die atmosfeer is gemaklik en vriendelik. Kindertyd is ook deel van hierdie erediens se normale verloop.
Voorskoolse kinders kan tydens die erediens die kerkgebou verlaat om kleuterkerk by te woon.
Die aanddiens is ‘n ruimte waar die karakter van die erediens informeel is. In praktyk beteken dit dat daar ‘n gemaklikheid is rondom aspekte soos die liedere wat gesing word en die taal wat gebruik word in die prediking. Die erediens word oor die algemeen deur tieners en hulle ouers bygewoon en daarom probeer ons om die temas te struktureer sodat dit hierdie groepering se leefwêreld aanspreek. Daar is egter heelwat mense wat nie in hierdie groepering val nie, wat om verskeie redes steeds by hierdie dienste aanklank vind.
Die eredienste word gekenmerk deur humor en kreatiwiteit. Ons het ook ‘n jong “band” wat ons bedien om die Here met kontemporêre musiek te aanbid. Daar is oor die algemeen ‘n wonderlike gemoedelikheid by die aanddienste, asook ‘n sterk gevoel van gemeenskap van gelowiges.
Wie jy ook al is, wat jou agtergrond ook al mag wees, jy is volledig welkom by ons aanddiens!
EREDIENSTE TYDENS LANGNAWEKE EN SKOOLVAKANSIES
Skoolvakansies & Langnaweke
Tydens skoolvakansies en langnaweke vind daar net een erediens om 09:00 in die kerkgebou plaas.
Aswoensdag – 18:30
Paasnaweek:
Donderdag – 18:30
Goeie Vrydag – 08:00 & 10:00
Paassondag – 08:00 & 10:00
Hemelvaart – 18:30
Pinkster weeksaande – 18:30
Gemeente-Feessondag – 09:00
Kerssangdienste – 16:30 & 19:00
Kersdag – 08:00 & 10:00
Oujaarsaand – 19:00
Ons gemeente hou, behalwe vir die eredienste op Sondae in ons kerkgebou, ook ander eredienste. Op hierdie wyse bring ons ook die evangelie na ons gemeenskap. Kontak gerus vir Dr. Karin Steyn of Emsie van Eyk (persoonlike assistent) met enige navrae oor die eredienste.
Die volgende eredienste word gehou:
Pretoria-Oos Aftree-oord
1ste Sondag van die maand | 09:00
Selrose Park Aftree-oord
1ste Donderdag van die maand | 10:00
Paul Jungnickel Tehuis (Kungwini)
1ste Vrydag van die maand | 09:30
DeMeerpaal Aftree-oord
3de Sondag van die maand | 09:30
Retreat Aftree-oord
3de Dinsdag van die maand | 14:00
Equestria Aftree-oord
Laaste Woensdag van die maand | 15:00
Die “Voordeur”-ruimte is al die plekke waar mense ons gemeente betree. Dit kan ‘n eerste keer wees by ‘n erediens, ‘n koffie op ons terrein, ‘n besoek of net die kere wat mense ons gemeente ontmoet vir welke rede. Die “Voordeur”-bediening is baie belangrik vir ons gemeente. Gasvryheid en openheid is deel van ons gemeente se DNA. Ons beskou die manier waarop mense by ons gemeente ontvang word en tuis voel as een van die belangrikste aspekte van die evangelie. Jesus se hart was om mense te omvou met liefde. Ons vra vir elke lidmaat om saam te werk om ander mense altyd te laat welkom voel.
Nuwe lidmate moet asseblief by die Infotoonbank of Kerkkantoor kom aanmeld. Ons het gereeld nuwe lidmaat verwelkoming-aande. ‘n Predikant sal jou ook graag wil kom besoek. Vul gerus die onderstaande vorm solank in en stuur dit per epos aan: ontvangs@ngtyger.com.
Ons gemeente probeer, na die beste van ons vermoë, om lidmate en besoekers by ons te laat welkom voel. Ons gemeente wissel elke drie jaar 40% van ons lidmate, terwyl die gemeente se totale getal lidmate elke jaar groei.
Ons is bewus daarvan dat lidmate wat al lank in die gemeente is, soms by ‘n byeenkoms kan kom, sonder om enige iemand te ken.
Daarom vra ons dat lidmate wat meer as tien ander persone tydens ‘n funksie of byeenkoms ken, hulself identifiseer deur óf ‘n gemerkte geel koffiebeker te gebruik óf ‘n gemerkte geel aansteek-kenteken te dra.
Jy word dan ons “netwerker” wat asseblief gasvry teenoor ander persone, wat minder mense ken, op te tree. Stel asseblief hierdie persone voor aan ‘n paar ander mense wat jy ken. Op hierdie manier hoop ons dat meer mense mekaar in die gemeente op die naam sal leer ken.
Ons kuier graag in hierdie gemeente! Op Sondae is daar gratis koffie/tee in die teater beskikbaar. Kruis Bande is ook oop vir lekkernye, koffie en Freezo’s. Ons maak oral op die terrein plek vir spasie om te kuier.
Deur die loop van die jaar is daar verskeie groot en spesiale geleenthede by ons gemeente. Daar is soms ‘n langtafel-kuier, wynveiling, teater-aand, konsert of ‘n kunstenaar wat optree.
Die hoogtepunt van ons gasvryheid in die gemeenskap is die jaarlikse Lig & Ritme Fees wat saam met die hele gemeenskap aangebied word.
Lees gerus meer hieroor:
Kinders is die hartklop van ons gemeente! Voorskoolse kinders (3-6 jaar) kom tydens ons 8 uur en 10 uur eredienste in die Kindersaal bymekaar. Hier leer hulle dat hulle deel is van God se storie en dat hulle belangrik vir God is.
Volwasse vrywilligers, tesame met Roelene, ons kinderwerker, het die voorreg om hierdie boodskap met ons kinders te deel.
Kontak gerus vir Roelene of Ds. Karin as jy by die spasie betrokke wil raak.
Roelene Botes | kinders@ngtyger.com
Karin Steyn | karin@ngtyger.com
Die Junior Groeigroepe kom Sondae 09:05 bymekaar om te leer van God se liefde en hoe God vir hulle ‘n lewe in oorvloed wil gee.
Ons oefen saam aan gesonde geloofsritmes en verhoudings.
Volwasse vrywilligers wat optree as groeigroepleiers het die voorreg om saam met kinders te reis in God se liefde.
Roelene Botes | kinders@ngtyger.com
Karin Steyn | karin@ngtyger.com
Die Senior Groeigroepe kom Sondae-aande 18:30 bymekaar. Ons poog om ruimtes te skep waar tieners ‘n belewenis van God in hul lewens kan ervaar. Hierdie geleenthede sluit aan by die aanddiens en fokus op die bou van verhoudings (met jouself, die Here, jou medemens en die natuur). Op ‘n praktiese vlak ontwikkel ons geloofstaal sodat elke tiener kan verwoord hoe God in hulle lewens werksaam is.
Kontak: Marco Koch | marco@ngtyger.com
Die belydenisjaar is die finale fase van ons jeugprogram. Dit dien as ‘n oorgang na die tweede fase van geloof.
Die belydenisjaar berei die Graad 11 groep voor om teen die einde van die jaar hul geloof vir hulself, voor die gemeente en voor die Here te bely. Die kursus sluit in gesprekke oor;
· Persoonlike geloof
· Die NG Kerktradisie
· Die Belydenisskrifte
· Die Bybel
· Betrokkenheid as lidmaat
Let asb op dat hierdie ‘n formele proses is waarby die kerkraad ook toestemming gee.
Kontak: Marco Koch | marco@ngty
Hierdie groep skakel in by die Sondagaand-diens om 17:30.
Hierdie groep bestaande uit Graad 12’s, studente en jong volwassenes funksioneer op twee vlakke:
Eerstens speel hulle ‘n kardinale rol om as mentors te dien vir die Senior Groeigroepe. Tweedens is daar gefokusde kuiergeleenthede vir hierdie groep om die Missio Dei (God se missie vir die wêreld) beter te verstaan. Daarmee word gevra: “Waarmee is God besig? Hoe sluit ons daarby aan?”
Kontak: Marco Koch | marco@ngtyger.com
Hierdie bediening is lewendig en vol energie. Aftrede is waarskynlik een van die grootste gebeurtenisse in ‘n mens se lewe. Ons weet hoe nodig ons mekaar het, so ons kuier gereeld saam. Wanneer jy nie kan deel wees van die saamwees nie, kom klop die Posduif-nuusbrief, aan jou deur. Ons is ‘n bediening wat omgee, waar jy tuis kan voel, en waar jy die potensiaal wat God in jou geplaas het kan uitleef. Dit is ‘n tyd in jou lewe waar jy baie aandag kan gee aan die emosionele en geestelike welstand van jou lewe. Ons nooi jou daarom uit om jou menswees met ons te kom deel!
Ons reik ook op ‘n gereelde basis uit na aftree-oorde in ons omgewing. Saam pak ons nuwe fases en uitdagings aan deur Bybelstudies, sprekers wat kom kuier of lekker sosiale geleenthede. Hier sal jy vinnig vir Dr. Karin Steyn tesame met Emsie van Eyk (persoonlike assistent) leer ken wat in beheer is van al die reëlings rondom ons saamwees. Hou die kalender en afkondigings dop vir inligting oor spesifieke geleenthede.
Kontak: Karin Steyn | karin@ngtyger.com
Word deel van ‘n groep wat bymekaar leer en saam geestelik groei! Ons gemeentelede vorm groepe wat lewensfases, belangstellings of woonareas in gemeen het. Hierdie groepe word deur gemeentelede gelei en georganiseer. Die groepe besluit self watter temas, onderwerpe of boeke hulle saam wil bespreek. Soms besluit die groepe op ‘n boek van hul keuse of skakel by die gemeente se preekreeks of kwartaaltema in. Indien jy by so ‘n groep wil inskakel of so ‘n groep wil begin, skakel gerus met Dr. Karin Steyn by die kerkkantoor.
Daar is soveel idees oor “man-wees”. Daar is baie invloede rondom manlikheid en die Bybel. Die hart van ‘n man begin en eindig by ‘n Christus-gesindheid. Jesus het Sy lewe afgelê vir jou. Elkeen van ons moet met hierdie hart leef. Die manne-spasie is ‘n ruimte vir gesprek oor die uitdagings van jou dag, beroep, pa-wees, die stereotipes rondom man-wees, ‘n geleentheid om nuwe verhoudings te bou en saam vir mekaar te ondersteun en te bid. Ons hou tot vier keer ‘n jaar ‘n byeenkoms met ‘n spreker, gas of sommer net ‘n lekker braai. Hou gerus die kalender en afkondigings dop vir meer inligting.
Vriendelike hart, wyse verstand, dapper gees en vrymoedige geloof. Dit is die karakter eienskappe van ‘n Eva vrou. Ons stories en stryd is verskillend, maar ons verdien almal om te behoort. Hier is plek vir elke vrou van jonk na oud.
Die vroue-ruimte is vir saam kuier, leer, en spesiale verhoudings, waar ons saam dink oor al die verskillende rolle van vrou-wees. Ons fokus daarop om saam te luister en hoor hoe God ons innooi, vorm en stuur in God se plan met ons en die wêreld. Ons heg baie waarde aan Jesaja 60:1-5 “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op”, en dit is ons droom vir elke vrou, dat Sy sal asem skep en opstaan in dit wat God haar voor roep. As vroue só na God luister dan hoor hulle … dat hulle ‘n plek het; dat hulle gelyk langs ander mag staan; dat hulle mense het wat hulle lief het; dat hulle hul volle menswees- kan omarm, en dat God hulle voorberei vir iets groter as hulself.
Dat elkeen van ons op ‘n geloofsreis gaan, beteken… dat die reis belangriker is as die bestemming; dat die Gees nooit klaar is met ons nie; dat die Gees verskillend met elkeen kan werk; dat daar nie een antwoord is wat vir almal pas nie; dat elke vrou haar eie reis die beste verstaan. Hou gerus die kalender en afkondigings dop vir meer inligting oor ons saam wees!
Hierdie ondersteuningsgroep kom minstens een maal per kwartaal bymekaar en vorm hegte bande van ondersteuning. Hierdie groep deel sinvolle inligting en hulpbronne en skep‘n ruimte waar gedeelde ervaringe in ‘n veilige konteks gedeel kan word.
Die verlies van ‘n lewensmaat het verrykende gevolge en kan intense gevoelens van eensaamheid en isolasie tot gevolg hê. Hierdie ruimte word so ingerig dat wewenaars van enige ouderdom een maal per kwartaal kan saamkuier en mekaar bemoedig en praktiese raad uitdeel.
‘n Miskraam is ‘n enorme verlies wat jou en die mense om jou diep raak. Jy voel dalk of jou miskraam jou LIG uitgedoof het, of dit onlangs of lank gelede gebeur het.
Yapha is ‘n werkswinkelgerigte ondersteuningsgroep wat gerig is op vrouens wat ‘n miskraan ervaar het.
Die groep volg ‘n deeglik uitgewerkte plan waar elke vrou die geleentheid kry om hierdie pad van verlies saam met ander te kan stap wat min of meer weet hoe sy voel. Daar word inligting en stories gedeel met sinvolle self-studie wat tuis voltooi word.
Dit is ‘n kursus wat strek oor ‘n paar weke en is reeds ‘n paar keer by ons gemeente aangebied vir persone wat iemand aan die dood afgestaan het. Die kursus inhoud is gebasseer op die GriefShare program. Hierdie kursus help jou om jou gevoelens van verlies te verstaan en te verwerk binne ‘n veilige spasie en saam met ander mense met soortgelyke ervarings. Die sessies duur ongeveer ‘n uur en vind een keer per week vir ‘n bepaalde tydperk plaas.
Die kursus word in groepsverband aangebied vir persone wat deur egskeiding geraak word en word gebasseer op die inhoud van die Divorce Care program. Hierdie kursus kan jou help om deur al die verskillende emosies te werk wat jy ervaar en om jou te begelei op ‘n nuwe pad wat voorlê. Die sessies duur ongeveer ‘n uur en vind een keer per week vir ‘n bepaalde tydperk plaas.
Die Omgee-NETWERK vat hande met bestaande organisasies en projekte in ons gemeenskap en gee ons gemeentelede die geleentheid om betrokke te raak op plekke waar ons werklik ‘n verskil kan maak.
CMR
Die Christelike Maatskaplike Raad is baie jare reeds onlosmaaklik deel van die NG Kerk en lewer namens die kerk ‘n barmhartigheidsdiens in gemeenskappe. Hulle ondersteun gesinne in ons gemeenskap wat maatskaplike hulp benodig.
Kungwini Welsyn
Hierdie organisasies bestuur die Paul Jungnickel Tehuis vir Gestremdes en die Kungwini Kleuterskool. Die tehuis is bekend en geliefd in ons gemeente.
Shoes 4 Souls
Hulle samel gebruikte skoene in, herstel dit en versprei dit weer aan persone wat dit nie andersins kan bekostig nie. Ons gemeente het ‘n permanente boks waarin skoene vir hierdie doel afgelewer kan word.
Eleos
Hulle lewer voorkomingsdienste aan hoë risiko gesinne in die Pretoria-Wes omgewing. Hierdie organisasie het sy oorsprong uit ons gemeente gehad en word tans bestuur deur ‘n komitee met die hulp van maatskaplike werkers.
Huis Silversig
‘n Tehuis vir verswakte bejaardes in Silverton wat deur die Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie (SAVF) bestuur word. Sommige van hierdie bejaardes gaan gebuk onder ernstige finansiële uitdagings en kan nie altyd in hul eie behoeftes voorsien nie.
Jakaranda en Louis Botha Kinderhuise
Hierdie twee kinderhuise is onderskeidelik in East Lynne en Queenswood en funksioneer as ‘n geheel onder dieselfde bestuur. Hierdie twee kinderhuise akkomodeer gesamentlik ongeveer 350 kinders wat vir verskeie redes nie by hul ouers kan woon nie. Ons gemeente is spesifiek betrokke by Huis 22 van Jakaranda Kinderhuis, maar ondersteun ook die groter kinderhuis in geheel.
PEN
PEN is ’n nie-winsgewende organisasie wat in 1992 gestig is vanuit ‘n NG Gemeente. Oor die jare heen het PEN (Participate Envision Navigate) ontwikkel in ’n geloofsgebaseerde, inklusiewe ruimte waar almal welkom is. Die PEN span werk hard om ’n samelewing te bou waar elke persoon voel dat hulle behoort en floreer. Hulle bereik dit deur liefdevolle, inklusiewe gemeenskappe te vestig en saam te staan teen ongeregtigheid. Hulle lewer dienste aan beide kinders en volwasses.
NETWERKFONDS
Die Netwerkfonds word deur ‘n komitee bestuur om lidmate van die gemeente sowel as die onmiddellike gemeenskap in nood te ondersteun op ‘n sinvolle, volhoubare en oordeelkundige wyse. Hulp word in die vorm van voedselhulp, finansiële bydraes, skoolgeld en terapie-befondsing gedoen.
Lees verder hier
TSHWENYEGA KLINIEK
Die gemeenskap in Tygerpoort-gemeente strek vanaf Solomon Mahlangu-weg tot by die ou Bronkhorspruit- pad (R25) en bestaan meestal uit kleinhoewes, plase en plattelandse gebied. Heelwat mense in hierdie areas werk op plase of kleinhoewes en talle werkloses woon in plakkerskampe by Grahamweg. Die naaste kliniek wat basiese gemeenskapsorg aan hierdie hele area voorsien, is Kanana kliniek (ongeveer 30km hiervandaan). Die kliniek self is onder druk en kan dikwels nie die nodige dienste lewer nie. Die gevolg is dat baie mense, ook die inwoners van Paul Jungnickel-huis en kinders by die verskillende projekte voortspruitend uit Kungwini Welsyn Organisasie nie toegang tot basiese mediese dienste het nie. Dit sluit immunisasie en versorging van kinders in. Vervoer na staatshospitale is duur en nie geredelik beskikbaar nie.
NG Tygerpoort het in 2019 besluit om inisiatief te neem en die primêre behoefte in die gemeenskap aan te spreek met die oprigting van ‘n nuwe gemeenskapskliniek. Binne ‘n nuwe NWO (Nie-Winsgewende Organisasie) het die gemeente hande gevat met Intercare, CIPLA en Kungwini Welsyn Organisasie. Die kliniek is opgerig op die gronde van Kungwini en bied basiese gesondheidssorg aan die hele gemeenskap teen ‘n basiese tarrief.
Lees verder hier
KONTAK
Dr Zander van der Westhuizen
zander@ngtyger.com
Skoolkwartale
Sondae 08:00 | 10:00 | 17:30
Skoolvakansies & Langnaweke
Sondae 09:00