web analytics

12 Julie 2020 – Ds. Wouter van Wyk (Woestynreeks)

12
Jul

12 Julie 2020

  • Skriflesing: Eksodus 3:1-12

Daar is 1 ding waarvan ek nogal deeglik bewus van is in my eie lewe. Kyk of julle dit kan optel.

  1. Ek praat die week met mense oor zoom wat vir my bietjie vertel hoe dit gaan. Die waarheid is dit gaan maar baie moeilik met hulle op die oomblik agv werk. Ek luister vir hulle en ek wil so graag iets sê wat alles gaan verander, wat hulle beter kan laat voel. Maar daar is niks nie.
  2. Of, ek raak so moedeloos oor my vrou se werkslading en haar werksure. En dan antwoord sy net dat sy dit moet doen want niemand anders kan haar help nie. Daar is niks wat ons kan doen nie.
  3. Ek gesels met iemand wie se ma die afgelope week oorlede is. Die verlies is groot. Ons is so hartseer. Ek probeer iets oor die foon kwytraak wat iets van hierdie hartseer kan wegvat. Maar ek kry nie die woorde nie. Daar is niks wat ek kan doen om hierdie hartseer weg te vat nie.

Dis eers toe ek bietjie oor hierdie gevoel wat ek beleef het, begin dink, dat ek die woord daarvoor kon kry. Dit waarvan ek op die oomblik bewus is, is magteloosheid. Magteloosheid per definisie beteken dat daar niks is wat aan die saak gedoen kan word nie.

Ek dink dat magteloosheid altyd op ‘n manier betrokke is by swaarkry. Om magteloos te wees, is om te besef daar is dinge wat vir jou sleg is, wat buite jou beheer is om te bestuur.

Magteloosheid laat mense vreemde dinge doen. Alles poging om op ander maniere en ander plekke mag terug te vat. Dis buite my mag om die staat se inperkings teen te staan so dan doen ek dit deur ‘n sekuriteitswag te lyf te gaan wanneer hy van my verwag om ‘n masker te dra. Of dalk voel jy magteloos by die werk en dan oorkompenseer jy om mag in jou huis af te dwing. Jy voel magteloos wanneer jou kind sukkel in die skool of selfs geboelie word, dan spring jy sommer self in en dagvaar al wat onderwyser / skool is.

Ons beleef magteloosheid op verskillende plekke. Magteloos om bevordering te kry/werk te verander. Magteloos uitgelewer aan siekte. Magteloos om ander se keuses en optrede te verander. Magteloos om seerkry en teleurstelling van ons kinders weg te hou. Magteloos om ouderdom af te weer en aan te hou aktief in die samelewing te wees.

Daar is egter min dinge wat ‘n mens so magteloos laat voel soos iets wat nie vir jou bekend is nie. Saam met die onbekende kom magteloosheid dikwels ook. As ek nie kan beplan nie, as ek nie redelik kan voorsorg tref nie, as ek nie myself kan voorberei nie, voel ek magteloos.

Juis om hierdie rede is hierdie reeks, en spesifiek die woestyn, vir my fassinerend.

Zander het verlede week reeds gepraat oor Elia en hoe hy juis in sy woestyntyd God by die berg Horeb ontmoet het in die windstilte. Zander het ook die opmerking gemaak dat dit presies hier is waar Moses ook God vir die eerste keer ontmoet het in die brandende bos.

En dit is eintlik baie belangrik dat ons sal raaksien dat dit juis in die woestyn, of dalk meer akkuraat, die wildernis is, wat Moses en Elia God ontmoet.

Daardie tyd was gekenmerk deur dit wat jy kan beheer en dit wat jy nie kan beheer nie. Konings was in beheer van ‘n landsgebied. Jy kan ‘n land beheer. Jy kon hulpbronne soos water en vee beheer. Jy kan beheer wie bly daar. Met ‘n sterk genoeg weermag kan jy beheer hoe die ekonomie werk en wie aansien en eiendom het. Regeerders het daarom mekaar se grondgebied aangeval sodat dit onder hulle beheer kan kom.

Maar met die woestyn was dit anders. Niemand kon die woestyn/wildernis beheer nie. In die woestyn was alles onvoorspelbaar. Ander kulture het geglo bose geeste bly in die woestyn. In die woestyn voel jy nooit in beheer nie. Jy weet nie waar water is nie en jy verdwaal baie maklik. Jy weet nie waar jou volgende ete vandaan gaan kom nie. Jy weet nie of daar gevaar wag vir jou nie. In die woestyn beleef jy magteloosheid in ‘n volledige vorm.

Dit is juis in hierdie omgewing van magteloosheid wat God telkens aan mense verskyn. Dit is juis in hierdie plek waar jy nie in beheer is nie, wat God rondbeweeg. Daar waar niemand dink hulle kan God beheer of manipuleer nie.

Daarom is hierdie verhaal juis ook so treffend.

Hier kom God na Moses toe (let wel – nie andersom nie). Wat is Moses se reaksie? God kom deur ‘n wonderbaarlike teken van ‘n bos wat nie uitbrand nie, Hy maak beloftes, Hy stel gerus. Wat is Moses se reaksie? Nee, asseblief nie ek nie!

Ons verstaan ook Moses se reaksie. Nee, ek is bang. Ek het geen mag by die farao nie. Sy presiese woorde is: Wie is ek?

Wie is ek? Jy hoor sy magteloosheid. Maar God antwoord hierdie uitroep baie interessant. Hy sê nie vir Moses – “Moses, ag man, jy is baie oulik en het eintlik alles wat jy nodig het nie.” Of “Moses, ek kies jou want jy is slim en wys nie”

God antwoord nie deur te sê wie Moses is nie. God antwoord deur te sê wie God is. Ek is by jou. Ek IS wie ek IS.

Dit vat nie Moses se magteloosheid weg nie. Maar dit help Moses om te besef hy beweeg nou op God se terrein.

Dalk is dit waarom God Moses in die woestyn ontmoet. Want God sê dalk daardeur dat al die magteloosheid wat Moses beleef, juis is waar God beweeg. Dis juis waar God op sy beste is. Dis juis waar God is wie Hy is. Dis daar in die woestyn waar jy nie beheer het nie, waar God sy huis maak.

Dit vat nie Moses se vrees weg nie, maar dit laat hom toe om oor te gee. Om te vertrou. In ‘n sekere sin maak dit hom vry.

Snaaks hoe dit nogal partykeer gebeur. Juis daar waar ons op ons magteloosste is. Daar waar ons op ons benoudste is. Daar waar ons dinge stywer en stywer wil vashou. Maar amper soos met water in jou hand, hoe stywer jy vashou, hoe meer lek die water uit. Hoe magteloser jy voel, hoe meer probeer jy ander dinge in jou lewe beheer. Met die gevolg dat jy nog meer regulasies instel, nog harder probeer werk, nog meer artikels lees, nog meer vir ander begin voorskryf.

Dis ook reg tot op ‘n punt. Beheer wat jy kan beheer. Beplan waar jy kan beplan. Maar as jy nie op ‘n stadium besef dat jy nie alles kan beheer nie, gaan jy nooit God in jou woestyn ontmoet nie. Gaan jy nooit die brandende bos in jou lewe raaksien nie.

Maar wanneer jy oorgee en aanvaar dat daar sekere dinge is wat jy nie kan doen nie, dis daar waar bevryding plaasvind. Die aanvaarding dat ons nou op God se terrein beweeg, bring bevryding. En dit is wat my verander! Dit is wat my deur my magteloosheid help.

Dis wat die volk ook moes beleef. Hierdie verhaal tussen Moses en God is eintlik ‘n voorskou oor die verhouding met God en sy volk. Die volk word nie net verlos en stap in hulle nuwe huise in nie. Nee, hulle gaan ook eers deur die woestyn vir 40 jaar. Hulle beleef ook eers magteloosheid. Hulle moet ook eers verander en verstaan. Hulle moet ook eers oorgee en vertrou.

Om te verander, om te bekeer, om te vertrou, vat noodwendig ‘n woestyntyd. Dit is moeilik.

Maar daarom antwoord God magteloosheid nie met wat ons kortkom nie. Maar met wie God is. Ek is wie ek is.

Mag jy dit ook vandag besef. Vandag waar ons in ‘n kollektiewe woestyntyd ingaan. Daar waar jy jou kinders by die skool moet aflaai met ‘n masker en handsaniteerder. Daar waar jy jou geliefdes deur ‘n rekenaarskerm kan sien. Daar waar jy by die werk moet instap en aangaan met dieselfde werk maar in baie ander omstandighede. Daar waar jy benoudheid beleef oor hierdie maand se rekeninge. Oral waar jy magteloos is om iets aan die omstandighede te verander. En mag jy oorgee op die plekke waar jy niks kan verander nie.

En mag jy daar beleef dat God juis daar is. En dat dit nie gaan oor wie jy is nie, maar wie God is.

Slotseen