web analytics

Sondag 15 November 2020 – Kapelaan Melanie Smit

16
Nov

15 November 2020

Oggenddiens

 

Skriflesing:  Johannes 15:1-8

15 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3 Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4 Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5 “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6 As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Tegnologie is deesdae nog meer op die voorgrond aangesien feitlik jou hele lewe deur tegnologie beheer word. Maar vir my slimfoon om te kan werk, moet ek gedurig die batterye herlaai. Onder my vriende het ek gou uitgevind watter apparaat is die beste en gaan die langste hou sodat ek minimum tyd op die herlaaier spandeer.

Die interessante vir my is dat ons dikwels ons verhouding met die Here ook so beleef. Ons het ‘n ongelooflike moeilike jaar agter die blad. Ons sê vir mekaar ons is moeg, ons is uitgeput. Sommige is bekommerd en ander het geliefdes verloor. Hierdie tyd van die jaar het ons regtig nodig om te herlaai.

Maar Jesus sê vir ons dat ons nie ons batterye soos met tegnologie vinnig kan herlaai terwyl ons tussendeur nog besig is om hierheen en daarheen te skarrel nie. Nee, Jesus sê ons is soos die lote aan ‘n wingerdstok. ‘n Loot op sy eie kan absoluut niks doen nie. Lote moet aan die wingerdstok vas wees. Net dan kan die lote groei en vrugte dra. ‘n Loot op sy eie verdroog en verloor die vrugte wat hy dra. So ‘n loot word in die vuur gegooi en verbrand.

Dit is die beeld wat Jesus gebruik om aan sy dissipels te verduidelik dat hulle aan Hom moet vas wees om vrug te kan dra. Dit is die beeld wat Jesus gebruik om aan ons te verduidelik wie is ons in Hom. Hy gebruik ‘n beeld wat in Grieks beteken: bly in / woon in my. Dus – maak jou tuis in my. Engels = abide in me, dwell in me. Dit is dus iets van ‘n tuiskoms, ‘n plek waar jy jou kan tuis maak.

Dis nie soos met ‘n batterylaaier wat gou genoeg krag moet voorsien vir weer net ‘n kort rukkie nie.

Ek was verlede naweek saam met Zander-hulle op die retreat en hy het hierdie einste teksgedeelte gebruik. Ons het dit dag en nag oordink, nie baie daaroor gepraat nie maar dit herkou. Ons het na gedigte daaroor geluister,  na liedere se woorde daaroor geluister. Hoe meer ek oor hierdie gedeelte nagedink het, hoe meer het ek besef hoe ryk hierdie gedeelte eintlik is. Niemand sal regtig reg kan laat geskied as jy net luister na hierdie gedeelte se woorde nie.

Terwyl ons so saam oor hierdie gedeelte gesels het, het almal na die bome op die terrein verwys. Die blare het saggies in die wind heen en weer gewaai. Onder het ‘n stroom water verby gevloei. Alles was so rustig. Skielik sien ek ‘n ladybird op my arm. Ek betrag die dingetjie vir ‘n rukkie en sit hom dan op die gras neer, menende dat hy op soek is na kos. Maar nie lank nie toe is die ladybird weer op my arm – dan hier, dan daar. Skielik daal dit tot my neer – my lewe is soos hierdie ladybird s’n. Maandagoggend spring ek in my kar, jaag werk toe, jaag almal op die pad aan. Kom by die kantoor en jaag deur alles. Dan kom jy huistoe en alles is weereens ‘n gejaag. En so jaag ons voortdurend van die een ding na die ander.

Daar sit ek die naweek en ek kyk terug op wat ek die afgelope week vermag het. Die beeld van die boom en die ladybird kom by my op en ek besef dat die boom waarskynlik veel meer vermag het as ek of die ladybird. Dit gaan daaroor om in God te wees. Daardie rustigheid van: Ek is die wingerdstok, julle die lote. Bly in My. Maak julle tuis soos wat Ek My graag wil tuis maak in julle.

Ek kyk na die boom. Die boom is besig om te groei. Sy wortels is diep en hy kry genoeg water by die stroompie wat daar naby verby vloei. Party takke verloor van die blare, ander takke kry weer nuwe blare. Maar dinge is besig om in hierdie boom te gebeur. Jy sien dit nie met ‘n oogopslag nie, maar hierdie boom is besig om te groei. Hy is stewig geanker in die aarde en hy kry genoeg water sodat hy kan groei. Ons moet stewig geanker wees in Jesus – die wingerdstok – sodat ons soos die lote kan vrug dra. Dan maak dit nie saak of ons in ‘n gejaag is en of ons net rustig is nie. Ons is stewig geanker in Christus. Alles wat ek dan doen, kom vanuit die Here want ek is in Hom en Hy is in my.

Iets anders wat my opgeval het is dat die Vader die boer is. Hy snoei die wingerdstok. Nou is die vraag: gaan die Here jou afsny of gaan Hy jou reg snoei? Hierdie deel los ons in die Here se hande. Dit is nie vir my of vir jou om oor te besluit nie. Al wat ons moet doen, is om aan te hou om te groei in die Here sodat ons sy vrugte kan dra. Die Here snoei ons wel en Hy doen dit sodat ons vrugte in oorvloed kan dra. Ons moet vrugte dra sodat mense kan sê: Die Here leef in jou!

Amen