web analytics

Sondag 17 Mei 2020

17
Mei

Lea het twee sê-dinge.

1 ) Maar ek het asseblief gesê

2 ) Jy mag nie worrie nie

Albei hierdie sê-dinge is van toepassing vir vandag se preek.

Want ons sluit vandag die preekreeks oor gebed af. En ons eindig bietjie met ‘n vreemde gebed om mee te eindig. Ons eindig met Jesus in Getsemane.

Ons het al gekyk na Hanna se gebed. ‘n Gebed wat verhoor is. Ons het gekyk na hoe ons God se stem hoor. En Zander het laasweek mooi na die Onse Vader gekyk en ‘n paar geheime van die gebed uitgewys. Maar vandag se gebed is nie soos enige ander gebed in die Bybel nie. So vandag sluit ons af met die tema: Wanneer die Here nee sê.

En ek dink ons beweeg nou in ‘n tyd in waar baie mense begin voel asof God vir hulle nee sê. Zander het verlede week nog gepraat van gemoedelikheid tussen mense. Maar ek dink hoe langer hierdie tyd aangaan, hoe meer gaan dit verander. Om die waarheid te sê, ek het dit klaar begin sien verander.

Want nou begin meer van ons voel hoe die beursie begin knyp. Ons sien hoe besighede wat ons opgebou het van die grond af toegemaak word. En in hierdie tyd glo ek daar is baie gebede wat vra dat die lockdown sal versag, dat die besigheid sal oorleef, dat my selfbeheersing sal behoue bly wanneer ek op facebook ‘n kommentaar skryf. En ek dink daar is baie mense wat in hierdie tyd voel asof die Here nee sê.

Of dalk weet jy klaar presies waarvan ek praat, en jy het geweet presies waarvan ek praat lank voor lockdown. Want jy het al langs daardie hospitaalbed gestaan sonder die antwoord. Jy het al gebid vir daardie kind, jy het al gebid dat daardie persoon se hart sal versag, sal bekeer, en jy het dieselfde antwoord gekry as Jesus op Gethsemane.

En as jy enigsins soos ek is, dan knak daardie antwoord ‘n mens.

En dis op hierdie punt wat ek amper soos my dogtertjie wil skree – MAAR EK HET DAN ASSEBLIEF GESÊ.

En ek wil regtig sê, dis nog een ding as dit nie iets major is nie. Maar as dit iets is wat diep binne jou ‘n plekkie gehad het, dan maak dit seer op ‘n plek wat mens sukkel om te verduidelik. En dan vra mens dikwels, maar wat het ek verkeerd gedoen? Het ek nie reg geglo nie? Het ek verkeerd gebid? Ek het al baie gewonder of dit nie ook is hoekom mense altyd wil hê dominees moet bid by groot geleenthede nie. Want as die dominee bid sal die Here sekerlik nie nee sê nie. Ek is jammer om julle teleur te stel. Maar die Here sê ook maar vir my partykeer nee.

Daarom is hierdie gedeelte so belangrik. Want selfs Jesus se gebed is nie verhoor nie. Ek wonder of mense dit altyd raaksien.

So, kom ons spring uiteindelik bietjie in die teks in.

Hierdie is ‘n crucial gebed. So crucial dat dit in al die evangelies plaasvind.

Dit opsigself is klaar vir my interessant. Ons is nie altyd daarvan bewus nie, maar die evangelieskrywers gebruik nie noodwendig almal dieselfde verhale om hulle weergawes van Jesus se bediening uit te beeld nie. Partykeer sal Markus en Matteus ‘n storie hê, maar Lukas sal besluit om dit uit te los. Partykeer het Matteus en Lukas ‘n storie, maar dan het Markus dit nie ingesit nie. En partykeer het elkeen hulle eie storie. So bv is Lukas die enigste evangelie wat die Barmhartige Samaritaan en die verlore seun in het. En ek gaan nie eers van Johannes praat nie. Daai ou is heeltemal op sy eie mission.

En tog, skryf Matteus, Markus, Lukas en Johannes almal van hierdie gebed. Hierdie gebed wat Jesus self gebid het, dieselfde Jesus wat ons leer bid het, en hierdie gebed word nie verhoor nie.

En dan wonder ek hoekom het dit enigsins die verhaal gemaak? Hoekom publiseer die evangeliste hierdie gefaalde gebed almal. Wanneer ek ‘n gebed bid wat nie verhoor word nie is dit ‘n skande in my oë. Dis nie iets wat ek wil hê ander mense moet sien nie.

En tog is dit in al die evangelies.

En wat ek hieruit vat is dat die evangelies nie gedink het hierdie was ‘n gefaalde gebed nie. Ek dink die evangeliste het almal gedink hierdie is ‘n kritiese verhaal wat elke gelowige nodig het om te sien. Want elke gelowige kan iets hieruit leer.

Daarom het ek spesifiek Lukas se weergawe gekies. Want Lukas voeg iets by wat die ander nie byvoeg nie, dalk om ons net daardie ekstra wenk te gee.

Ek lees weer vir ons die betrokke verse

“Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” ‘n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.

Dis nogal interessant, maar ek dink daar is 2 baie belangrike teologiese punte wat hierdie paar verse maak. Al die kommentare wat ek gelees het sê hierdie is die kritiese punt in die Jesusvertelling waar Jesus se Seunskap, met ander woorde dat Hy God se Seun is, bevestig word. Reg deur die verhaal is daar sprake daarvan. Wanneer Jesus gedoop word kom daar ‘n stem uit die hemel wat sê hierdie is my geliefde Seun. Maar dit is hier, waar Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader, wys dat hy God se Seun is. Want net ‘n seun sou so gehoorsaam wees aan ‘n vader.

Hierdie is ook die rede waarom ek die 10 gebooie laat lees het vandag. Dit is ook die rede waarom ons kos gee aan mense in nood wat oor ons pad kom. Dit is die rede waarom ons dagstukkies skryf en waarom ons preke maak. Dit is die rede waarom gelowiges hulle harte oophou en help waar hulle kan. Dit is waarom ons geduldig met mekaar behoort te wees. Dit is waarom ons mekaar moet respekteer in gesprekke. Dit is waarom ons mekaar vergewe. Want ons MOET aan God gehoorsaam wees. En gehoorsaamheid aan God is om liefde uit te leef. Party mense dink gehoorsaamheid aan God maak dat hulle ander moet haat. Dat hulle lysies moet opstel van wie nou die reels oortree het. Wie het gaan draf sonder ‘n masker? Wie is waaragtig 9:10 nog nie in hulle huise nie. Gehoorsaamheid aan God is om in sy liefde te leef. Nie net vanuit jou sitkamerbank te kom orders gee oor hoe dit moet lyk nie. Maar om dit self te leef! Self jou hande te gaan vuil maak. Self by mense in nood uit te kom. Self iemand te bemoedig en by te staan. Dit is gehoorsaamheid aan God.

En dit is wat die evangeliste ons ook wys deur hierdie gebed. ‘n Gebed is nie net God wat moet gee nie. Met elke gebed moet ons onsself afvra of ons wil gehoorsaam wees, soos Jesus gehoorsaam was. En dit is om aan te hou leef met die gedagte, nie my wil nie maar U wil.

Maar die tweede teologiese punt, en die rede waarom ek spesifiek Lukas se weergawe gekies het, en dit is dat gebed altyd gepaard gaan met ‘n klomp ja’s ook. Want alhoewel Jesus dalk ‘n “nee” gekry het, het hy onmiddellik ook ‘n groot “ja” gekry. Jesus het ‘n engel gekry wat Hom bygestaan het.

Nou in die Bybelwetenskap is daar nou baie ouens wat wonder of hierdie regtig gebeur het en baie ouens wonder selfs of dit nie ‘n versie is wat later ingevoeg is nie, die versie wat sê ‘n Engel het Jesus bygestaan. En inderdaad kan dit so wees. Maar nietemin dink ek dat dit daar hoort.

Hoekom? Want dit is wat gelowiges al oor eeue heen beleef as waar. Dit is waar dat God ons bystaan. En as God nee sê vir ‘n geliefde wat genees moet word, of ‘n werk, of ‘n verhouding, of wat ook al, sê God nooit nee vir liefde, vir krag, vir geduld, vir wysheid vir leiding nie.

Dit is vi my so opvallend. Jesus se angs word baie eksplisiet hier uitgespel. Maar nadat Hy klaar gebid het staan Hy op, en gaan Hy voort om die moeilike pad te stap. Want saam met die Nee het Jesus ‘n groot klomp Ja’s gekry. En dit is daardie ja’s wat Hom help om die pad van die kruis te voltooi.

Ek is seker daarvan dat almal van ons ook hierdie ja’s sal sien wanneer ons mooi genoeg kyk. Partykeer kan mens dit vinnig sien, ander kere vat dit jare, maar die ja’s is altyd daar. En dit is daardie ja’s wat eintlik die belangrike ja’s is. Dis eintlik waarsonder ons nie kan leef nie. En daarom hou God aan om dit te gee.

En so kom on nou by my dogtertjie se ander sê-ding. Jy mag nie worry nie mamma. Selfs, al sê God partykeer nee, hoef ons nie te worry nie, want met elke nee is daar ook ‘n ja. Met elke gebed is daar ‘n engel wat ons ondersteun en vertroos, en krag gee om weer op te staan. Daarom kan ons bid, doen tog nie ons wil nie Here, maar u wil.