web analytics

19 Julie 2020 – Ds. Karin Steyn (Woestynreeks)

19
Jul

19 Julie 2020

Woestyntyd – Hagar

Verskillende dinge in ons lewe voel vir ons soos woestyne en bring ons by ons eiewoestyne uit.  In hierdie verstaan van woestyne is dit plekke van swaarkry; plekke van alleenwees; plekke van versoeking om ons eie planne te maak of om op te gee.  Dit is plekke van verlies, plekke waar ons twyfel oor God se teenwoordigheid.  Plekke waar ons heeltemal gestroop is van onsself, van al die geraas wat ons doof maak, van al die sekerhede waarop ons staatgemaak het.

Ons kom ook – in ’n leeftyd soms ’n hele paar keer – by skrikwekkende plekke uit waar dit voel asof daar nie meer hoop is nie.

Ons ken nou al die verhaal hoe Abraham geroep word om sy wortels uit te trek by Ur van die Galdeërs.

Hy trek na die land wat die Here nog vir hom sal wys.

Op hierdie reis gee die Here kort-kort vir hom beloftes wat almal op ’n manier insluit dat hy ’n groot nageslag, ‘n verbondsnageslag sal hê.

Ongelukkig raak Abraham en Sara al ouer en die kanse vir ’n baba, menslik gesproke, drasties skraler.

Teen die tyd dat ons Gen. 16 bereik, is hulle reeds ver verby die ouderdom van kinders kry.

God gee ‘n belofte van ’n nageslag en grond aan Abraham.  Menslik gesproke lyk dit nie moontlik nie.  Hoe gaan God se belofte waar word as Abraham en sy vrou Sarai dan nie eers kinders het nie?  So maak Sarai soos wat ons ook dikwels maak wanneer dit vir ons lyk asof God te lank vat om in te gryp:  Sy maak haar eie planne.

In stede daarvan om God te vertrou en staat te maak op God se voorsiening en belofte, besluit Sarai om haar slavin vir Abram te gee, sodat Abram by die slavin ’n kind kan hê – iets waarvoor ons natuurlik vandag ander woorde gebruik.

In Genesis 16 ontmoet Hagar die eerste keer vir God – in die woestyn, waar sy probeer vlug van haar probleme.  Hier, in die woestyn, gee God vir haar – ’n Egiptenaar, ’n vrou, ’n slaaf – dieselfde belofte as vir Abram (Gen. 16:9):  “Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel.”

Hagar gaan terug na Abram toe en kry ’n seun, Ismael.  Isma-‘el – wat letterlik beteken:  God hoor.

Dit is ook ‘n getuienis:

“…hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”

As jy die Here sien, dan raak jou hart vol en begin jou mond daarvan oorloop.

En ek en jy, 4000 jaar later, word deur hierdie getuienis geïnspireer en ons begin dit na-sê. Daar is baie mense hier buite wat nie weet dat die Here hulle raaksien nie. Ons is die profete wat hulle daarop moet wys:

“Die Here is die Here met oë! Wat jou raaksien! Wat omgee!

Dan gebeur die wonderwerk en Sara word swanger.  Sy sien vir Ismael lag (kon dalk spot wees) – en besef skielik dat háár seun sy erfporsie met ’n slavin se seun sal moet deel.  So dring sy aan dat die slavin weggejaag word.

Die toekoms van ‘n vrou het by haar seun gelê. Die eersgeborene is die primêre erfgenaam, en dit kan Sara nie toelaat nie. Ismael, die kind van die slavin, mag nie as eersgeborene erf nie. Nie noudat sy haar eie seun uit haar eie liggaam gekry het nie. Vandaar haar harde opdrag aan Abraham dat hy die slavin en haar seun moet wegjaag. Sara praat so neerhalend oor hulle dat sy hulle nie eens by die naam noem nie.

Dis interessant hoe daar van Hagar en Ismael gepraat word:  “die slavin, die kind”.  Nooit word hulle name genoem nie.  Hagar – en nou ook Ismael – is heeltemal gestroop van hul menswaardigheid.  Hagar is ’n slaaf, ’n Egiptenaar.  Ismael is haar seun.

Nie mense nie, nie naaste nie, nie werd om gereken te word nie.

Hierdie keer lyk dit asof Abraham die regte ding wil doen.  Tog sê God hy moet vir Hagar en Ismael wegstuur.  Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons nie verstaan wat God doen nie!  Soms eindig ons in ons eie woestyn en dan het ons die aaklige vermoede dat God ons hierheen gebring het.

Die skatryk Abraham gee vir Hagar kos en ‘n velsak water en stuur haar weg.

Die volgende oggend het Abraham vir Hagar en die kind weggestuur, die Bersebawoestyn in. Die manier waarop hy die kos en water op Hagar se skouers sit en die kind vir haar gee, spreek diep. In hierdie gebare sit alles wat hy nie kan verwoord nie. Liefde en die begeerte om vir oulaas te versorg, maar terselfdertyd oorgawe, hartseer en afskeid.

Hagar en die kind het doelloos in die woestyn rondgeswerf, sonder heenkome. Die kos en water was nie genoeg om hulle deur te dra tot in Egipte, haar land van herkoms nie. Toe die water opraak het die uitsigloosheid Hagar oorval. Sy het gevoel dat sy nie kan toekyk hoe haar seun doodgaan nie. Daarom het sy hom onder ‘n doringbos agtergelaat, eintlik verwerp. Met die laaste bietjie menslikheid wat in haar oor was, het sy haar seun die skadu van die doringbos gegun. Syself het ‘n ent daarvandaan gaan sit, omtrent so 90 meter, en onbedaarlik begin huil.

En weer is Hagar in ‘n woestyn.

Hagar lê haar seun onder ’n bos neer – die bewoording gee letterlik die idee van neerlê in ’n graf.  Sy gaan sit ’n ent weg – die pyn is te veel, sy wil nie haar seun se swaarkry sien nie.

Soms kies mens ’n woestyn – soos Hagar in Gen. 16.  Soms is woestyne iets wat met jou gebeur, soos in Gen. 21. 

Dikwels is woestyne iets wat God toelaat.

Want die woestyn is ook God se plek.

Dit is juis in en deur woestyne wat God in ons lewens werk.

Dit is wanneer ons so gestroop is, nie meer ons eie planne probeer maak nie, nie meer op ander goed probeer staatmaak nie, wat ons vir God sien.

Hoor mooi:  dis ’n woestyn.  Vir die grootste deel van ons tyd in die woestyn voel ons verlate.  Dors.  Desperaat.  God is daar!  Maar dikwels is dit juis die aard van woestyne, dat ons nie God se teenwoordigheid raaksien nie, dat ons juis uitgelewer, bang en onseker voel.

In die woestyn leer Hagar wéér dat God hoor.  Soos wat God reeds bevestig het in haar seun se naam:  Ismael.  God hoor.

Op ‘n indirekte manier word Ismael se naam wel genoem, aan die begin en dan weer aan die einde – die belangrikste vers 17; nie in die vorm van ‘n eienaam nie, maar as ‘n werkwoord: “Isma Elohim”. “Isma” beteken “hoor”. “Elohim” is die langer vorm van “El”, wat “God” beteken. “Isma El”, God het die kind gehoor – Ismael.

Sy naam kry betekenis wanneer God betrokke raak.

Hy het nie net ‘n noemnaam nie. Hy het ‘n werkwoord vir ‘n naam. God verander sy lot – Ismael, God hóor en God gryp in en God bring uitkoms. Die weggooikind van mense word die optelkind van God.

Dit is omdat God hoor dat Hagar opgeroep word om nie bang te wees nie.

Vers 17:

Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor.

Die tweede ding wat ons in Hagar se woestyn sien, is in die woorde van die Ou-Testamentikus Lisel Joubert:

God weef die gevolge van die keuse ruimhartig in sy plan in.

=God weef die gevolge van ons foute ook in sy plan in.

Hierdie hele situasie is die gevolg van Sara en Abraham se ongeloof, hulle onvermoë om op God se belofte te vertrou.  Hierdie kon die einde gewees het van hul fout: Hagar en Ismael kon doodgegaan het in die woestyn.  Geen verdere gevolge nie.  Wel, ten minste nie vir Abraham en Sara nie.  Maar Hagar en Ismael word ingeweef in God se belofte.  Hulle verhaal word deel van die Abraham en Sara-verhaal.  God sorg ook vir Hagar en vir Ismael, ómdat hulle deel is van die verhaal.

Toe mense later Hagar se verhaal hoor, sê hulle vir mekaar:

“Ons mag nooit van hierdie verhaal vergeet nie!

Kom ons noem die fontein: La-gai-Roi-fontein”.

Dit beteken: Fontein “van Hom wat lewe en my sien!”

Natuurlik is dit met verreikende gevolge.  Daar is vele parallelle tussen Ismael en Isak se verhale. Ismael word die stamvader van 12 stamme, soos Isak.  Uit Isak, die kind van die verbond, kom Judaïsme en uiteindelik ons, die Christene.  Uit Ismael kom Islam; ’n stryd tussen Jode en Moslems wat vandag nog voortduur.

Daar is troos in die feit dat God ons keuses in sy plan inweef. 

Dit beteken nie dat ons ons skouers mag ophaal en sê “Laat God’s water oor God’s akker loop” nie.

Die gevolge word déél van die verhaal, maar daar is gevolge.

Aangrypend van woestyne – en van God in die woestyn – is dat woestyne plekke van bevryding is.

Hier is Hagar:  Egiptenaar. Slaaf. Vrou.  Weggejaag.  Weggegooi.  Die woord wat in Afrikaans met “weggestuur” vertaal word,  is ook ’n term vir egskeiding.

Hierdie was dus die eerste egskeiding.

Die woord wat gebruik word vir “wegstuur” is dieselfde as “skei”, maar óók die selfde woord vir slawe vrymaak.  Hagar word weggestuur – en vrygemaak.

Woestyne is plekke waar ons vry word.

God ontmoet hierdie verwerpte vrou.  God sê dat hy haar hoor.  God bevestig wéér die belofte wat Hy destyds aan haar gemaak het – die belofte soortgelyk aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het.  Niemand anders ontvang so ’n belofte nie!  Hagar word ’n matriarg – wat ons sien uit die feit dat sy vir Ismael ’n vrou kies.

Woestyne is plekke van vryheid – of dalk eerder bevryding – omdat dit plekke is van “laat gaan”.

Ons word vry as ons 3 dinge laat gaan:

1) ons behoefte aan mag en beheer;

2)ons behoefte aan veiligheid en sekuriteit; en

3) ons behoefte aan aanvaarding en agting.

Dis juis in die woestyn waar God ons vrymaak van hierdie begeertes sodat ons, in die plek van ons eie begeertes wat ons gebind het, onsself sien soos God ons sien:  as deel van sy plan; as waardig;  as kosbaar.

SLOT

Wonders in die verhaal:

  1. Dit is die eerste wonder: Die Here hoor die huil na dors.

Die Here hoor die huil van ’n moeder wat wanhopig en magteloos wag op die ergste om te gebeur.

Die Here hoor! Omdat Hy vir mense omgee.

  1. Die tweede wonder is dat die “Engel van die Here” weer ’n keer verskyn.

Sigbaar, tussen mense – as Immanuel. Dit is niks anders as God wat in Jesus Christus aan ons kom verskyn het om hoop en ’n toekoms te bring nie.

  1. Die derde wonder is dat die Here Hagar se oë oopmaak om te kan sien.

En wat sien sy?

Sy sien die Here se voorsiening wat nog die heeltyd daar binne reikafstand was:

’n Put met water.

Soms is woestyne heerlike plekke van rus en stilte.  Meer dikwels is woestyne skrikwekkende, bedreigende plekke van onsekerheid en vrees en magteloosheid en eensaamheid.  Maar altyd is woestyne plekke van God, waar God werk, waar God hoor.

Daar is geen trauma en geen wanhoop wat by die Here verbygaan nie.

Saam met Hagar moet ons leer sê:

“Ek het die Here gesien wat my gesien het.”

“Ek het die Here gehoor wat my gehoor het.”

Gaan leef met hierdie getuienis. Gaan lewe vanuit hierdie getuienis!

 

GEBED

Wanneer ons slawe is in ’n vreemde land

Is U die God wat sien en hoor.

Wanneer ons die slagoffers is van huishoudelike twis

Is U die God wat sien en hoor.

Wanneer ons geboorte skenk aan kinders van twis

Is U die God wat sien en hoor.

Wanneer ons uit ons huise gegooi word

Is U die God wat sien en hoor.

Wanneer ons ‘n bespotting maak van ander mense se smart

Is U die God wat sien en hoor.

Wanneer ons families ons verwerp

Is U die God wat sien en hoor.

Wanneer ons nie vir onsself kan voorsien nie

Is U die God wat sien en hoor.

Wanneer ons wanhoop aan die lewe self

Is U die God wat sien en hoor.

So mag die God wat Hagar en Ismael sien en hoor

Die God wat buitestanders en foute raaksien

Die God wat diegene wat nie gekies is nie, sien en hoor

Na ons omsien en vir ons voorsien

Deur ons omswerwinge, ons ballingskap en ons foute.

Nou en vir altyd.

(n.a.v. ’n gebed deur The Grace Community http://www.freshworship.org/archive/services/2008/2008-02-hagar.html )

 

SEËN

Die God wat ons sien in ons woestyne

En ons trane hoor

Gee vir ons die belofte van sy seën:

Die Here sal julle seën

en julle beskerm;

die Here sal tot julle redding verskyn

en julle genadig wees;

die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!