web analytics

Sondag 26 April 2020

26
Apr

1 Samuel 1

‘n Vreemde ding het gisteraand met my gebeur. Half 11 die aand, terwyl ek op die bank sit en preek maak, lui my foon. Ek ken nie die nommer nie en nadat ek antwoord besef ek ek ken ook nie persoon aan die ander kant van die lyn nie. Hy vra vinnig of hy nou met ds Wouter praat. Na my antwoord vra hy eenvoudig of ek vir hom kan bid. Ek huiwer, want hoe bid mens vir iemand wat jy nie ken nie. Hy vertel toe vir my kortliks wat sy naam is en dat hy en sy gesin al 3 dae sonder kos sit. Hy woon in Hammanskraal en kan nie in die stad kom nie. Ek wonder toe hoe ‘n gebed sy honger maag gaan aanspreek. Ek vra of ek nie kan geld stuur nie. Hy het egter nie ‘n bankrekening of enige manier waarop ek die geld kan uitkry by hom nie. Al wat hy soek is ‘n gebed.

En in daardie oomblik besef ek hierdie is ‘n belangrike gebed. Nie om sy omstandighede te verander of wonderbaarlik uitkoms te bring nie. Eerder om ‘n gelowige te bemoedig.

Dalk is dit ook waarom Hanna se storie my so aanspreek. Hierdie is ‘n belangrike gebed. En dit is nie ‘n nuwe gebed nie. Dit is ook nie die eerste keer wat sy dit bid nie. Enige iemand wat al maand op maand gewag het vir ‘n positiewe swangerskap toets sal hiervan kan getuig. Met elke maand raak die seer groter, die bekommernis meer en die pyn swaarder.

So iemand soos Hanna het waarskynlik al lank met hierdie pyn en hierdie gebed geloop. Ons lees in vers 12 dat sy lank tot die Here gebid het. In Hebreeus kan ons letterlik vertaal dat sy haar gebede vermenigvuldig het.  Hierdie was nie sommer net ’n terloopse ou gebedjie nie.  Ek kan myself ook voorstel dat dit nie die eerste keer is dat sy oor hierdie saak worstel nie.  In daardie tyd was dit ’n groot skande wanneer jy nie kon kinders kry nie.  So nie net was daar die emosionele smagting na ’n haar eie kind nie,  maar ook was die vernedering wat daarmee saamgekom het waarskynlik ’n groot las om te dra.  Want baie mense het dit gesien as God wat jou straf as jy nie kon kinders kry nie. Daarmee saam was dit ‘n verlies aan ekonomiese sekuriteit, want die enigste vorm van aftreeplan wat hulle gehad het was dat jou kinders vir jou sorg. Geen kinders, geen aftreeplan.

So nou bid sy en dit gaan woes. So woes dat Eli dink sy is dronk.

Haar antwoord is dat sy nie dronk is nie, maar dat sy net haar siel uitgestort het voor die Here.

Op hierdie punt wil ek dalk net bietjie Hanna se storie parkeer en praat oor hoe ons dikwels gebed sien.

Almal van ons het waarskynlik dieselfde soort gebede. Ons bid wanneer ons dankie sê vir die kos. Gewoonlik met die byvoeging dat God met al die minder bevoorregte mense sal wees. Ons bid in die aande dat God ons sal beskerm, met almal sal wees wat ons liefhet. As ons ‘n groter geleentheid het wat voorlê sal ons God vra om ons by te staan.

En so dikwels word ons gebede dan net ‘n vorm van wensvervulling. Ek vra iets met die opsie dat God dit moontlik vir my kan gee. Gebed word dus baie dikwels eerder ‘n vra as wat dit ‘n gee word.

Tog is dit nie wat Hanna doen nie. Vir Hanna is gebed nie net ‘n vra vir ‘n kind nie. Dit is ‘n uitstort van ‘n siel. Dit is ‘n deel van haarself wat sy vir die Here gee. Dit is ‘n eerlikheid. ‘n Broosheid. Sy deel iets van haarself.

Ek dink dit is dikwels wat kort in ons eie gebede. Ons hou daarvan om te vra. Maar ons vergeet dat ons ook moet gee.

Nog ‘n rede waarom mense dikwels sukkel om te bid is juis omdat dit moeilik is om jouself kwesbaar te stel en dan teleurgestel word. Jy maak jou siel oop, jy bid oor jou bekommernis. Dis baie persoonlik. Dit gaan nou oor JOU vrese, JOU siekte, JOU finansiële voortbestaan. En dan word jou gebed nie verhoor nie. Dan vra mens, wat is die punt. Weereens is die probleem dat mense dus gebed se doel sien as wensvervulling.

Maar daar is iets in die teks wat my so getref het en my hele persepsie van gebed verander het.

Want reg aan die einde van die gedeelte antwoord Eli haar. Hy sê sy kan maar huis toe gaan, want God het haar gebed gehoor. Die skrywer skryf dan: “Sy het toe geloop en gaan eet,  en was nie meer bedruk nie”

HOEKOM?!?!?!

Niks het verander nie! Sy het geen bevestiging dat dit wel sal gebeur nie! En tog staan daar, sy was nie meer bedruk nie.

Hierdie is die punt van gebed vir my. Ek bid, nie omdat ek my sin wil kry nie. Ek bid want in die proses van my siel uitstort kry ek berusting by God. Hoe dit gebeur weet ek nie. Maar dit is wat so gereeld gebeur. Want gebed help my om te besef dat daar iets groter aangaan as net my eie probleme. Gebed help my om te onthou dat God my onthou. Gebed help my om vrede te maak met my omstandighede, of ek dit kan verander of nie.

Dalk is dit waarom die man my ook gebel het. Ons het later verder gepraat om plan te maak rondom kos. Maar dis nie wat hy op daardie oomblik wou hê nie. Hy wou vrede kry in daardie oomblik. Dit is die krag van gebed.

Daarom moet ons aanhou bid, veral in hierdie tyd.

Mag jy jou hart uitstort voor die Here. Mag jy jou broosheid voor die Here bring. Mag jy iets van jouself gee. En mag jy besef dat God jou gebed hoor, al word dit nie altyd verhoor nie.

En mag jy ook opstaan, en nie meer bedruk wees nie.

Amen