web analytics

Sondag 16 | Die Onse Vader

31
Jul

Kernboodskap

Dit is makliker om te bid as wat ons dink.

Aanvangsaktiwiteit

Het julle al gewonder hoekom ons bid, en of dit regtig nodig is? Gesels oor wie jou leer bid het? Rympies is maklik om te onthou, maar dit raak partykeer net ‘n klomp woorde wat ons opsê. Rympies kan ons laat vergeet hoe dit is om regtig iets uit ons harte te bid.

Wie van julle is bang om te bid voor mense? Is dit omdat julle bang is julle weet nie wat om te sê nie.? Het julle geweet die dissipels het ook vir Jesus gesê hulle weet nie hoe om te bid nie. Toe leer Jesus vir hulle presies hoe om dit te doen. Wie van julle weet van watter gebed ek praat?

Dit is die ONSE VADER.

Skriflesing

Matteus 6 – Net die Onse Vader ook op Bl 256 Klassieke Kinderbybelstorieboek

Wat kan ons hieruit leer?

As mens dit net so luister, klink dit nie so maklik nie. Maar ons gaan dit opbreek om mooi te kyk wat Jesus bedoel het:

  1. Met wie praat ek?

Ons moet tog weet ons praat met God. Dit is soos ‘n naam wat aan die begin van ‘n briefstaan

            Byvoorbeeld: “Here Jesus”, of” Vader God”, of net “Jesus”. Hoe sal jy begin?

  1. Hoekom bid ek?

Ons moet God se Naam groot maak! Ons moet vir God sê ons weet hoe belangrik Hy is, en dat ons niemand anders as God aanbid nie.

Byvoorbeeld: “God, U is so groot en goed en almagtig”

  1. Jy mag vra

Ons mag vir God vra om ons te seën en vir ons te sorg. Ons daaglikse brood kan enigiets wees.

Byvoorbeeld: “Jesus help dat mamma en pappa ‘n goeie werk kan hê sodat ons kan warm slaap en geld het vir kos en klere.”

  1. Bely jou sonde

Jesus wil hê ons moet jammer sê vir die baie dinge wat ons verkeerd doen. Dit is ongelukkig ook waar dat ander mense slegte goed aan ons doen, en ons moet vir hulle ook bid en hulle vergewe soos wat ons van God vra om ons te vergewe.

Byvoorbeeld: “Ek is jammer dat ek ongehoorsaam was vandag”, of “dat ek met my boetie baklei het” of “help my om elke dag ook my maats te vergewe as hulle my hartseer maak”

  1. Beskerming

Jesus leer ons dat ons mag vra dat Hy ons sal beskerm teen die dinge wat ons laat sonde doen. Ons noem dit ‘n versoeking. ‘n Versoeking is wanneer jy weet iets is verkeerd maar jy doen dit nog steeds en jy bly nie daarvan af weg nie.

Byvoorbeeld: “Help my asb Jesus dat ek nie weer ongehoorsaam sal wees nie” of “help my dat ek nie weer afdwaal van U WIL nie.”

  1. Lofprysing

God is goed vir ons! Hy doen baie vir ons, soos om ons te beskerm, vir ons te sorg en om ons sondes te vergewe. Dan kan ons mos nie anders as om Hom te loof en prys nie!

Byvoorbeeld: “Here, ek weet ek mag enige iets van U vra, want U is almagtig en die belangrikste deel van my lewe”.

  1. Amen

Weet julle wat beteken die woord Amen? Dit beteken, “mag dit so wees” Dit is ‘n seën oor alles wat jy gebid het.

Kom ons bid saam

Laat almal saam die Onse Vader bid.

Riglyne vir die opvoeder

Benodighede:

Kryte

Slotaktiwiteit

Kleur die hand in en gaan plak dit bo jou bed, sodat jy altyd kan onthou hoe maklik dit eintlik is om te bid.

Tuisopdrag

Bid deur die week soos jy vandag geleer het en leer dit vir jou ouers.